Rigters 16:15-31 Bybel vir Almal (ABA)

15. Delila het vir hom gesê: “Jy sê jy is lief vir my, maar jy wil nie vir my die waarheid sê nie. Jy het my nou al drie maal bedrieg en jy het nie vir my gesê hoekom jy so sterk is nie.”

16. Delila het die hele dag aangehou vra, sy het nie opgehou nie. Simson het later begin wens hy is dood.

17. En toe vertel hy vir haar die waarheid. Hy het gesê: “Ek het nooit my hare laat afskeer nie, want ek is ’n nasireër van God vandat ek gebore is. As iemand my hare afskeer, dan sal ek nie meer sterk wees nie, ek sal soos ander mense wees.”

18. Delila het toe geweet Simson het vir haar die waarheid vertel en sy het die leiers van die Filistyne laat roep. Sy het vir hulle gesê: “Julle moet kom. Hierdie maal het hy vir my die waarheid vertel.”Die leiers van die Filistyne het na Delila toe gekom en hulle het die geld saamgebring.

19. Sy het Simson aan die slaap gemaak met sy kop op haar skoot en sy het iemand geroep om Simson se hare af te skeer. Toe was Simson nie meer sterk nie, en sy het hom vasgedruk.

20. Sy het gesê: “Simson, hier is die Filistyne!”En toe Simson wakker word, het hy gedink: Ek sal weer loskom, soos voorheen, ek sal my losruk.Simson het nie geweet die Here is nie meer by hom nie.

21. Die Filistyne het hom gegryp en hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na die stad Gasa gebring. Daar het hulle hom met koperkettings vasgebind. Hy moes in die tronk die koringmeul draai.

22. Later het sy hare weer lank geword, dit was soos voor Delila dit laat afskeer het.

23. Eendag het die leiers van die Filistyne bymekaargekom om vir hulle god Dagon ’n groot offer te bring en om fees te vier. Hulle het gesê: “Ons god het ons gehelp om ons vyand Simson te vang.”

24. Toe die Filistyne vir Simson sien, het hulle begin om hulle god te prys. Hulle het gesê: “Ons vyand Simson het ons land verwoes en hy het baie van ons mense doodgemaak. En nou het ons god ons gehelp om hom te vang.”

25. Toe die Filistyne vrolik geword het, het hulle gesê: “Roep vir Simson, ons wil vir hom lag.”Hulle het Simson uit die tronk laat kom sodat hulle vir hom kon lag. Hulle het hom tussen die pilare laat staan.

26. ’n Seun het Simson se hand vasgehou, en Simson het vir die seun gesê: “Bring my by die pilare waarop die tempel staan. Ek wil voel waar hulle is en ek wil teen hulle staan.”

27. Die tempel was vol mans en vroue, en die leiers van die Filistyne was vrolik. Op die dak was nog 1 000 Filistyne, mans en vroue, wat vir Simson kom lag het.

28. Simson het tot die Here gebid en gesê: “Here, my Here, dink aan my en maak my nog hierdie een maal sterk. Ek wil die Filistyne straf omdat hulle my oë uitgesteek het.”

29. Hy het gevoel aan die twee pilare waarop die dak van die tempel was, die pilare in die middel van die tempel. Hy het teen die pilare gestaan, met sy regter-hand teen een pilaar en met sy linker-hand teen die ander pilaar.

30. Toe sê hy: “Here, laat my saam met die Filistyne sterf.”En toe stoot Simson baie hard teen die pilare, so hard soos hy kan. Die dak van die tempel het geval op die leiers en op al die mense wat in die tempel was. Simson het gesterf, maar op daardie dag toe hy gesterf het, het hy meer mense doodgemaak as toe hy gelewe het.

31. Sy broers en sy hele familie het gekom en hulle het hom weggedra. Hulle het hom begrawe in sy pa Manoag se graf tussen die stede Sora en Estaol. Simson was 20 jaar lank ’n leier van die Israeliete.

Rigters 16