4. Dit is die Here wat dit laat gebeur het, maar Simson se ouers het dit nie geweet nie. Die Here wou die Filistyne straf. Hulle het in daardie tyd oor die Israeliete regeer.
5. Simson en sy ouers het na Timna gegaan, en toe hulle by die wingerde van Timna kom, was daar ’n leeu wat gebrul het en wat vir Simson wou vang.
6. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak, en Simson het die leeu met sy kaal hande doodgemaak, so maklik soos ’n mens ’n bokkie doodmaak. Hy het nie vir sy ouers daarvan vertel nie.
7. Simson het met die vrou gaan praat, en hy het van haar gehou.
8. Later het Simson teruggegaan na Timna om met die vrou te trou. Hy het langs die pad gestop om te kyk na die geraamte van die leeu. Daar was ’n swerm bye binne-in die geraamte, en daar was heuning.
9. Hy het die heuning in sy hand gekrap en hy het geloop en daarvan geëet. Toe hy by sy ouers kom, het hy vir hulle ook heuning gegee, en hulle het geëet. Hy het die heuning uit die leeu se geraamte gehaal, maar hy het dit nie vir sy ouers vertel nie.
10. Hulle het by die vrou se familie aangekom, en Simson het daar ’n fees gehou. Jongmanne wat trou, het altyd so ’n fees gehou.
11. Toe die Filistyne vir Simson sien, het hulle 30 mans gekies om by hom te bly totdat die fees klaar is.
12. Simson het vir die mans gesê: “Ek wil vir julle ’n raaisel vra. Julle moet probeer uitvind wat die antwoord is, en as julle dit vir my kan sê voor die sewe dae van die fees verby is, dan sal ek vir julle elkeen ’n onderkleed en ’n mooi oorkleed gee.
13. Maar as julle nie vir my die antwoord kan sê nie, dan moet julle elkeen vir my ’n onderkleed en ’n mooi oorkleed gee.”Die mans het vir Simson gesê: “Goed, vra vir ons die raaisel. Ons wil dit hoor.”
14. Simson sê toe vir hulle:“Uit die een wat eet,kom iets wat jy kan eet,uit die een wat sterk is,kom iets wat soet is.”Die mans kon ná drie dae nog nie die antwoord van die raaisel vir Simson sê nie.
15. Op die sewende dag het hulle vir Simson se vrou gesê: “Jy moet vir jou man vra wat die antwoord is en jy moet dit vir ons sê. As jy dit nie doen nie, dan sal ons jou en jou pa se familie verbrand. Het julle ons genooi om na die fees te kom sodat ons arm moet word? Ja of nee?”
16. Simson se vrou het toe by hom gehuil en gesê: “Jy haat my, jy is nie lief vir my nie. Jy vra vir my mense ’n raaisel, maar jy sê nie vir my die antwoord nie.”Simson het vir haar gesê: “Ek het ook nie vir my ouers die antwoord gesê nie. Hoekom moet ek dit vir jou sê?”
17. Sy het aangehou huil by hom, al die dae terwyl hulle feesgevier het, en op die sewende dag het hy vir haar die antwoord gesê, want sy het nie opgehou vra nie. Sy het toe die antwoord vir haar mense gesê.
18. Voor die son op die sewende dag ondergegaan het, het die mense van die stad vir Simson gesê:“Wat is soeter as heuning,wat is sterker as ’n leeu?”Simson het vir hulle gesê: “Julle het die antwoord by my vrou gekry. Julle sou dit nooit self gekry het nie.”