Openbaring 21:8-21 Bybel vir Almal (ABA)

8. Maar al die mense wat bang is en die mense wat nie glo nie, sal in die see van vuur en swael kom, en ook die mense wat baie verkeerde dinge doen en die mense wat ander mense doodmaak en die mense wat onsedelik lewe en die mense wat toor en die mense wat afgode dien en die mense wat lieg. Die see van vuur en swael is die tweede dood.”

9. Een van die sewe engele het na my toe gekom. Dit was een van die sewe engele wat God se straf gebring het, God se sewe laaste strawwe in sewe bakke. Die engel het vir my gesê: “Jy moet saam met my kom! Ek sal vir jou die bruid wys, die vrou van die Lam!”

10. Die Gees het in my gekom, en die engel het my na ’n groot, hoë berg geneem. Toe het hy vir my die gewyde stad, Jerusalem, gewys. Die stad het afgekom uit die hemel, van God af.

11. Die stad was vol lig, die lig wat om God, die Koning, is. Die stad het geblink soos ’n baie duur edelsteen, soos jaspis wat baie blink is.

12. Die stad het ’n groot, hoë muur gehad. In die muur was twaalf poorte. By die twaalf poorte was twaalf engele, en op die poorte was die name van die twaalf stamme van die Israeliete geskryf.

13. Daar was drie poorte in die muur oos van die stad, drie poorte in die muur noord van die stad, drie poorte in die muur suid van die stad en drie poorte in die muur wes van die stad.

14. Die muur van die stad het twaalf fondamente gehad. Op die fondamente was die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf.

15. Die engel wat met my gepraat het, het ’n goue meet-stok gehad om die stad en die poorte en die muur te meet.

16. Die stad was vierkantig: dit was so lank soos dit breed was. Die engel het die stad gemeet: dit was 12 000 stadioi lank en 12 000 stadioi breed en 12 000 stadioi hoog.

17. Hy het die muur ook gemeet. Dit was 144 el hoog. Die engel het gemeet hoeveel el dit was, soos mense altyd ’n el meet.

18. Die muur was van jaspis. Die stad was van die beste goud, dit het geblink soos die mooiste glas.

19. Op die fondamente van die muur was daar baie mooi edelstene. Op die eerste fondament was jaspis. Op die tweede fondament was saffier. Op die derde fondament was agaat. Op die vierde fondament was smarag.

20. Op die vyfde fondament was oniks. Op die sesde fondament was karneool. Op die sewende fondament was chrisoliet. Op die agste fondament was beril. Op die negende fondament was topaas. Op die tiende fondament was chrisopraas. Op die elfde fondament was hiasint. Op die twaalfde fondament was ametis.

21. Die twaalf poorte was twaalf pêrels. Ja, elke poort was gemaak van een pêrel. Die straat van die stad was van die beste goud, dit het gelyk soos glas, ’n mens kon daardeur sien.

Openbaring 21