Numeri 32:25-41 Bybel vir Almal (ABA)

3-4. “Die Here het die volk Israel gehelp om die land te oorwin waar die stede Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sebam, Nebo en Beon is. Dit is ’n land vir diere, en ons het baie diere.

25. Die mense van die Gad-stam en die Ruben-stam het vir Moses gesê: “Ons sal doen wat Meneer sê.

26. Ons kinders en oumense, ons vroue, ons skape en bokke, al ons diere, sal hier in die stede van Gilead bly,

27. maar ons self sal oorgaan, elkeen sal sy wapens vir die oorlog saamneem, soos Meneer sê. Die Here sal dit sien.”

28. Moses het toe vir die priester Eleasar en vir Josua seun van Nun en vir die familiehoofde van die stamme van Israel gesê wat hulle moet doen met die Gad-stam en die Ruben-stam.

29. Moses het gesê: “Die manne van die Gad-stam en die Ruben-stam moet saam met julle oor die Jordaan-rivier gaan. Elkeen moet sy wapens vir die oorlog saamneem. Die Here sal dit sien. As julle die land oorwin, dan moet julle die land Gilead vir die manne gee, dit moet hulle land wees.

30. Maar as hulle nie hulle wapens neem en saam met julle oor die rivier gaan nie, dan moet hulle saam met julle grond kry in die land Kanaän.”

31. Die mense van die Gad-stam en die Ruben-stam het geantwoord: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.

32. Ons sal ons wapens neem en oorgaan na die land Kanaän saam met julle, die Here sal dit sien. Maar die grond wat ons sal kry, moet aan hierdie kant van die Jordaan-rivier wees.”

33. Moses het toe die grond vir hulle gegee. Hy het vir die Gad-stam en die Ruben-stam en die helfte van die stam van Manasse seun van Josef die lande gegee van Sihon koning van die Amoriete en die lande van Og koning van Basan. Dit was die lande met die stede en die grond rondom die stede.

34. Die Gad-stam het die stede Dibon, Atarot en Aroër gebou,

35. en ook Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha,

36. Bet-Nimra en Bet-Garan. Die stede het sterk mure gehad, en daar was krale vir die skape en bokke.

37. Die Ruben-stam het die stede Gesbon, Elale en Kirjatajim gebou

38. en ook Nebo, Baäl-Meon en Sibma. Hulle het nuwe name gegee vir die stede wat hulle gebou het.

39. Die familie van Makir seun van Manasse het na Gilead gegaan en hulle het die land oorwin. Hulle het die Amoriete weggejaag wat daar gewoon het.

40. Moses het die land Gilead vir Makir seun van Manasse gegee, en Makir het daar gaan woon.

41. Jaïr seun van Manasse het ’n klomp dorpies oorwin en hy het hulle die Jaïr-dorpe genoem.

Numeri 32