Numeri 32:12-21 Bybel vir Almal (ABA)

12. Kaleb seun van Jefunne, die Kenissiet, en Josua seun van Nun sal in die land ingaan, want hulle het aangehou om in My te glo.’

13. Die Here het kwaad geword vir die Israeliete, Hy het hulle 40 jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag gesterf het, die Here het nie van daardie geslag gehou nie.

14. Nou kom julle hier, julle is ’n klomp sondaars soos julle voorvaders, en julle maak die Here nog meer kwaad vir die Israeliete.

15. As julle nie doen wat die Here wil hê nie, dan sal Hy die volk weer in die woestyn los. Dan sal julle hierdie hele volk laat sterf.”

16. Toe kom die mense van die Ruben-stam en die Gad-stam nader na Moses toe en hulle sê: “Ons wil hier vir ons skape en bokke krale bou, en ons wil stede bou vir ons kinders en oumense,

17. maar ons manne sal gereed wees om oorlog te maak, en ons sal voor die Israeliete gaan totdat ons hulle by hulle plek gebring het. Maar ons kinders en oumense moet in stede woon wat sterk mure het om hulle te beskerm teen die mense wat in die land woon.

18. Ons sal eers help dat elke Israeliet sy grond gekry het, dan sal ons terugkom na ons huise.

19. Ons wil nie saam met die Israeliete grond kry anderkant die Jordaan-rivier en verder nie, want ons wil hierdie grond hê, langs hierdie kant van die Jordaan-rivier, oos van die rivier.”

20. Moses het toe vir hulle gesê: “As dít is wat julle wil doen, dan moet julle gereedmaak om te gaan oorlog maak. Die Here sal dit sien.

21. Die Here moet sien dat elkeen van julle wat wapens het, oor die Jordaan-rivier gaan. Julle moet saam oorlog maak totdat die Here sy vyande weggejaag het voor Hom.

Numeri 32