Numeri 14:28-45 Bybel vir Almal (ABA)

28. en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur:

29. Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het.

30. Ek het belowe dat julle in daardie land sal woon, maar julle sal nie daar kom nie, net Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun sal daar kom.

31. En julle kinders? Julle het gesê dat die vyande hulle sal vat. Maar Ek sal húlle daar bring, húlle sal die land ken wat vir júlle nie belangrik was nie.

32. Maar julle, julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê,

33. en julle kinders sal 40 jaar lank skape en bokke moet oppas in die woestyn. Julle was ontrou, en daarom sal hulle swaarkry, totdat al julle dooie liggame in die woestyn lê.

34. Julle het manne gestuur om 40 dae lank te kyk hoe die land lyk, en Ek sal julle ’n jaar lank straf vir elke dag. Julle sal 40 jaar lank die straf moet dra vir julle sonde, julle sal weet dat Ek kwaad is vir julle.

35. Ek, die Here, het gepraat. Ek sal dit doen aan hierdie slegte volk wat in hierdie woestyn opstandig was teen My. Hulle sal almal hier sterf.”

36. Moses het manne gestuur om te gaan kyk na die land. Die manne het teruggekom en hulle het vals stories oor die land vertel. Hulle het die hele volksvergadering opstandig gemaak teen Moses en hulle het vir Moses beskuldig.

37. Daardie manne wat die vals stories vertel het, het almal gesterf van die pes wat die Here gestuur het.

38. Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne het saam met die manne na die land gaan kyk, maar hulle het nie gesterf nie, hulle het aangehou lewe.

39. Toe Moses vir die Israeliete alles sê wat die Here gesê het, het die volk gehuil en getreur.

40. Hulle het die oggend vroeg opgestaan en hulle wou opgaan in die berge. Hulle het gesê: “Hier is ons, ons het sonde gedoen, maar ons wil nou na die plek gaan wat die Here vir ons belowe het.”

41. Moses het vir hulle gesê: “Hoekom hou julle aan om ongehoorsaam te wees aan die Here? Julle sal nie slaag nie.

42. Julle moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. As julle in die land ingaan, dan sal die vyande julle oorwin.

43. Die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, julle sal sterf in die oorlog omdat julle weggegaan het van die Here, Hy sal nie by julle wees nie.”

44. Maar die Israeliete was hardkoppig, hulle het opgegaan na die berge, en die verbondskis van die Here het in die kamp gebly. Moses het ook daar gebly.

45. Die Amalekiete en die Kanaäniete wat in daardie berge gewoon het, het afgekom en hulle het die Israeliete oorwin. Hulle het die Israeliete na al die kante toe gejaag tot by die stad Gorma.

Numeri 14