Nehemia 8:3-11 Bybel vir Almal (ABA)

3. Die priester Esra het toe die wette vir die volksvergadering gebring. Daar was mans en vroue. Almal wat kon verstaan, was daar. Dit was op die eerste dag van die sewende maand.

4. Esra het van vroeg die oggend tot die middag daar op die oop stuk grond voor die Water-poort uit die boek gelees vir die mans en vroue, vir almal wat kon verstaan. Al die mense het goed geluister na dit wat in die boek geskryf is.

5. Die sekretaris Esra het gestaan op ’n hout-toring wat mense gemaak het. Regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links langs hom het Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam gestaan.

6. Al die mense het gesien toe Esra die boek oopmaak. Hy het hoog bo hulle gestaan, en toe hy die boek oopmaak, het almal opgestaan.

7. Esra het die Here, die Groot God, geprys. Al die mense het gesê: “Amen” en hulle het hulle hande opgetel. Toe het hulle gebuig en met hulle gesigte teen die grond gaan lê om die Here te aanbid.

8. Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabtai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wette vir die mense verduidelik. Die mense het op hulle plekke bly staan.

9. Die Leviete het gelees uit die boek, uit die wette van God. Hulle het verduidelik wat dit beteken sodat almal dit kon verstaan.

10. Die goewerneur Nehemia, die priester en sekretaris Esra en die Leviete wat die wette vir die mense verduidelik het, het toe vir al die mense gesê: “Hierdie dag is gewy aan julle God die Here, julle moenie huil of treur nie.”Want al die mense het gehuil toe hulle hoor wat die wette sê.

11. Die goewerneur het vir die mense gesê: “Julle moet gaan, julle moet lekker kos eet en soetgoed drink. Julle moet vir ander mense wat niks gereedgemaak het nie, ook daarvan stuur. Want hierdie dag is gewy aan ons Here. Julle moenie hartseer wees nie, julle moet bly wees daaroor dat die Here julle beskerm.”

Nehemia 8