Matteus 10:13-26 Bybel vir Almal (ABA)

13. As die mense sê julle is welkom, dan moet julle sê dat die Here se vrede daar sal bly. Maar as hulle sê julle is nie welkom nie, dan moet julle nie sê dat die Here se vrede daar sal bly nie.

14. As iemand sê julle mag nie daar bly nie en as hulle nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie huis of stad en julle moet die stof van julle voete afskud.

15. Ek sê vir julle, en dit is seker: Dit sal baie sleg gaan met daardie mense op die dag wanneer God almal sal oordeel. Dit sal beter gaan met die stede Sodom en Gomorra as met daardie stad.”

16. Jesus het ook gesê: “Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal soos skape wees wat tussen gevaarlike wolwe is. Daarom moet julle versigtig wees soos die slange, en soos duiwe moet julle niks verkeerd doen nie.

17. Julle moet oppas vir die mense, want hulle sal julle vang en hof toe vat. Hulle sal julle met swepe slaan in die sinagoges.

18. Die mense sal julle hof toe sleep voor goewerneurs en konings omdat julle aan My behoort. Dan sal julle vir die konings en die mense wat nie Jode is nie, kan sê wie Ek is.

19. En wanneer die mense julle hof toe vat, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet sê nie, want God sal vir julle sê wat julle dan moet sê.

20. Dit sal nie júlle wees wat praat nie, dit sal die Gees van julle Vader wees wat sal sê wat julle moet praat.

21. Een broer sal ’n ander broer hof toe vat en vra dat die hof hom moet straf en doodmaak, en so sal ’n pa ook sy kind hof toe vat. Kinders sal opstandig wees teen hulle ouers en hulle sal hulle ouers laat doodmaak.

22. Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort. Maar as julle tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God julle red.

23. Wanneer die mense in een stad slegte dinge doen aan julle, dan moet julle na ’n ander stad vlug. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal nog nie klaar wees nie met die werk wat julle moet doen in al die stede van Israel, dan sal Ek kom, Ek, die Seun van die mens.

24. ’n Dissipel is nie belangriker as sy meneer nie. ’n Slaaf is ook nie belangriker as sy eienaar nie.

25. ’n Dissipel moet tevrede wees wanneer dit met hom gaan soos met sy meneer. ’n Slaaf moet tevrede wees wanneer dit met hom gaan soos met sy eienaar. As die mense vir die hoof van die huis sê hy is Beëlsebul, dan moet die mense in sy huis weet dat die mense vir hulle nog slegter dinge sal sê.”

26. “Julle moenie bang wees vir daardie mense nie. God is Koning, niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal dit sien en daarvan weet.

Matteus 10