27. Want wie is die belangrikste: Die een wat by die tafel sit, of die een wat die mense by die tafel bedien? Natuurlik is dit die een wat by die tafel sit. Maar kyk na My, wat doen Ek? Ek is by julle soos iemand wat die mense by die tafel bedien.
28. Julle het altyd by My gebly toe dit sleg gegaan het met My.
29. Daarom sal Ek vir julle konings maak soos my Vader vir My ’n Koning gemaak het.
30. Dan sal julle saam met My kan eet en drink by my tafel waar Ek Koning is. Julle sal op trone sit en julle sal die twaalf stamme van Israel oordeel.”
31. Toe sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, jy moet goed luister, die Satan wil julle toets en hy wil kyk of julle sal ophou om in My te glo, hy wil julle graag sif soos ’n mens koring sif.
32. Maar Ek het gebid dat jy sal aanhou om in My te glo. En jy, wanneer jy verander het en lewe soos God wil hê, dan moet jy jou broers help.”
33. Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.”
34. Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.”
35. Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie ’n beursie of ’n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?”Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.”
36. Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand ’n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy ’n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie ’n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en ’n swaard koop.
37. Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.”
38. Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.”Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.”
39. Jesus het uitgegaan na die Olyf-berg. Hy het dit elke aand gedoen vandat Hy in Jerusalem gekom het. Die dissipels het saam met Hom gegaan.
40. Toe hulle by die Olyf-berg kom, het Jesus vir die dissipels gesê: “Julle moet bid dat julle sal aanhou om My te volg, ook wanneer julle swaarkry.”
41. Jesus het ’n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos ’n mens met ’n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid
42. en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”