1. Die Here het vir Moses gesê:
2. “Jy moet praat met die Israeliete en vir hulle sê: Hierdie is die feeste van die Here wat julle moet vier. Dit is die tye wanneer julle moet bymekaarkom en wanneer julle julleself moet wy, dit is my feeste.
3. Julle moet ses dae lank werk en alles doen wat julle moet doen, maar die sewende dag is die fees van die Sabbatdag. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy, en julle moenie werk nie. Dit is die Sabbatdag van die Here, oral waar julle woon.
4. “Hierdie is die feeste van die Here, dit is die tye wanneer julle moet bymekaarkom om julleself te wy. Julle moet die feeste vier op die tye wanneer julle dit moet doen.
5. “Die Paasfees van die Here is op die veertiende dag van die eerste maand, wanneer dit donker begin word.
6. Die Fees van die Ongesuurde Brood begin op die vyftiende dag van dieselfde maand. Dan moet julle sewe dae lank ongesuurde brood eet.
7. Julle moet op die eerste dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie julle werk doen wat julle altyd doen nie.
8. Julle moet vir die Here ’n vuur-offer bring op elkeen van hierdie sewe dae. Op die sewende dag moet julle weer bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag dan nie die werk doen wat julle altyd doen nie.”
9. Die Here het vir Moses gesê:
10. “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle kom in die land wat Ek vir julle gee, en julle sny die koring en die gars af, dan moet julle die eerste gerf wat julle afsny, vir die priester bring.
11. Die priester moet die gerf heen en weer beweeg voor die Here, dan sal die Here dit van julle aanvaar. Die priester moet die gerf beweeg op die dag ná die Sabbatdag.
12. Op dieselfde dag moet julle ’n gesonde jaaroud lam bring om ’n brand-offer vir die Here te wees.
13. Julle moet ook ’n koring-offer saambring. Die koring-offer moet twee tiendes van ’n efa van die beste meel wees. Julle moet dit met olyf-olie meng en knie. Die drank-offer moet ’n kwart hin wyn wees.