10. Iemand wat nie ’n priester is nie, mag nie van die gewyde presente eet nie. ’n Priester se bywoner of sy dagloner mag nie van die gewyde presente eet nie.
11. As die priester ’n slaaf gekoop het of as ’n slaaf in sy huis gebore is, dan mag die slaaf van die priester se kos eet.
12. ’n Priester se dogter wat getroud is met ’n man wat nie ’n priester is nie, mag nie eet van die offers wat gewyde presente is nie.
13. As ’n priester se dogter ’n weduwee geword het of as sy geskei het van haar man en sy het nie kinders nie en sy gaan woon weer in haar pa se huis soos toe sy jonk was, dan mag sy van haar pa se kos eet. Iemand wat nie ’n priester is nie, mag nie van die kos eet nie.
14. As ’n persoon van die gewyde kos eet maar hy het nie geweet dat dit gewyde kos is nie, dan moet hy vir die priester ’n gewyde present gee en hy moet nog een vyfde van die kos daarby sit.
15. Die priesters mag nie die gewyde presente ontwy wat die Israeliete vir die Here offer nie.
16. As hulle dit doen wanneer hulle van die gewyde kos eet, dan sal hulle skuldig wees, en dan moet hulle ’n skuld-offer bring. Ek is die Here, Ek het hulle gewy.”
17. Die Here het vir Moses gesê:
18. “Jy moet vir Aäron en sy seuns en al die Israeliete sê: ’n Israeliet of ’n vreemdeling wil miskien ’n gelofte-offer bring, of hy het ’n offer wat hy graag self wil gee om ’n brand-offer vir die Here te wees.
19. Dan moet dit ’n gesonde bul of ram wees. Die Here sal dit aanvaar.
20. Maar as die dier nie gesond is nie, dan moet julle dit nie offer nie, want die Here sal dit nie aanvaar nie.
21. “En wanneer ’n persoon vir die Here ete-offers bring om ’n gelofte te betaal, of as hy graag ’n offer wil gee, dan moet hy ’n bees of ’n skaap of ’n bok offer wat gesond is. Die Here sal dit aanvaar, maar die dier moet heeltemal gesond wees.
22. Julle mag nie vir die Here ’n dier offer wat blind is of wat seergekry het of wat vratte op sy vel het of wat ’n velsiekte het nie. Julle mag nie so ’n dier op die altaar bring om ’n vuur-offer te wees nie.
23. Wanneer julle graag self ’n offer wil gee, dan mag julle ’n bees of ’n skaap gee wat gebreklik is, maar dit mag nie ’n gelofte-offer wees nie, die Here sal dit nie aanvaar nie.
24. Wanneer ’n dier se geslagsorgane stukkend gedruk is of geskeur is of gesny is, dan mag julle dit nie vir die Here offer nie. Julle mag dit nie doen in julle land nie.