18. Daarna moet hy uitgaan na die altaar wat voor die Here is en hy moet daarop versoening doen. Hy moet van die bul en die bok se bloed neem en hy moet dit smeer aan die horings van die altaar.
19. Hy moet sewe maal van die bloed teen die altaar spat. So moet hy die altaar reinig en so moet hy die altaar wy.
20. Wanneer hy klaar versoening gedoen het vir die gewyde kamer en vir die tent en die altaar, dan moet hy die bok wat nog lewe, nader bring.
21. Hy moet altwee sy hande op die bok se kop sit en hy moet daarop alles bely wat die Israeliete verkeerd gedoen het, al hulle sondes. So moet hy die sondes op die bok se kop sit en dan moet hy ’n persoon stuur wat die bok na die woestyn moet neem.
22. Die bok moet al die sondes van die volk wegdra na die woestyn, en die persoon moet die bok in die woestyn los.
23. Daarna moet Aäron kom na die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy moet die linne-klere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die gewyde kamer ingegaan het en hy moet die klere daar neersit.
24. Hy moet homself bad in ’n gewyde plek en hy moet ander klere aantrek. Dan moet hy uitkom en hy moet sy brand-offer offer en ook die brand-offer van die volk. So doen hy versoening vir homself en vir die volk.
25. Hy moet ook die vet van die sonde-offer verbrand op die altaar.
26. Die persoon wat die bok weggeneem het na Asasel toe, moet sy klere was en hy moet homself bad. Daarna mag hy terugkom in die kamp.
27. Aäron het die bloed van die bul en van die bok wat sonde-offers is, gebruik om versoening te doen in die gewyde kamer. Iemand moet dan die bul en die bok uit die kamp neem en hy moet hulle verbrand, ook die velle en die vleis en die pensmis.
28. Die persoon wat dit doen, moet sy klere was en hy moet homself bad, daarna mag hy terugkom in die kamp.
29. Julle moet altyd dit doen: Julle moenie eet of werk op die tiende dag van die sewende maand nie, die Israeliete moenie werk nie en ook nie die vreemdelinge wat by julle woon nie.
30. Hoekom? Want op hierdie dag moet die hoëpriester vir julle versoening doen en so moet hy julle reinig van julle sonde, sodat julle rein kan wees voor die Here.
31. Hierdie dag moet vir julle ’n spesiale Sabbatdag wees, en julle mag dan nie eet nie. Dit moet altyd so wees.
32. Die priester wat gesalf is om hoëpriester te wees ná sy pa, moet sy linne-klere aantrek, die gewyde klere.
33. Hy moet versoening doen vir die tempel, vir die gewyde kamer, vir die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, vir die altaar, vir die priesters en vir die hele volk wat daar bymekaar is.
34. Dit moet elke jaar gebeur. Die hoëpriester moet versoening doen vir die Israeliete, sodat die Here al hulle sondes sal vergewe.”Aäron het gedoen soos die Here vir Moses gesê het.