Jona 1:6-16 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die kaptein van die skip het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Hoekom slaap jy? Staan op, bid tot jou God. Miskien sal Hy aan ons dink, en dan sal ons nie sterf nie.”

7. Die matrose het vir mekaar gesê: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind wie se skuld is dit dat hierdie storm oor ons gekom het.”Hulle trek toe lootjies, en die lootjies wys dit is Jona se skuld.

8. Die matrose het vir Jona gevra: “Is dit jou skuld dat hierdie storm oor ons gekom het? Watter soort werk doen jy? Van waar kom jy? Uit watter land, uit watter volk kom jy?”

9. Jona het vir hulle gesê: “Ek is ’n Hebreër en ek dien die Here, die God van die hemel. Hy het die see en die land gemaak.”

10. Die matrose het baie bang geword en hulle het gebewe. Hulle het vir Jona gesê: “Hoekom het jy dit gedoen?”Hulle het geweet hy vlug weg van die Here, want hy het dit voorheen vir hulle vertel.

11. Die branders in die see het groter geword, en die matrose het vir Jona gevra: “Wat moet ons doen met jou sodat die storm op die see stil kan word?”

12. Jona het vir hulle gesê: “Tel my op en gooi my in die see, dan sal die see stil word rondom julle. Ek weet dit is my skuld dat hierdie groot storm oor julle gekom het.”

13. Die matrose het hard geroei en hulle het eers probeer om terug te kom by die land, maar hulle kon nie, want die branders van die see het groter en groter geword rondom hulle.

14. Hulle het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, U moet ons asseblief nie laat sterf omdat hierdie een man verkeerd gedoen het nie. Help ons ook dat ons nie iemand doodmaak wat onskuldig is nie. U is die Here, U kan doen wat U wil doen.”

15. Hulle het Jona opgetel en hulle het hom in die see gegooi. Toe het die see kalm geword en die branders was nie meer groot nie.

16. Die matrose het baie bang geword vir die Here. Hulle het vir die Here ’n offer gebring en hulle het belowe om nog meer offers vir die Here te gee.

Jona 1