Johannes 9:6-17 Bybel vir Almal (ABA)

6. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en Hy het klei gemaak met die spoeg. Hy het die klei aan die blinde man se oë gesmeer en

7. vir hom gesê: “Gaan was jou in die Siloam-dam.”Die woord Siloam beteken “God het Iemand gestuur.” Die blinde man het gegaan en hy het homself gewas. Toe hy terugkom, kon hy sien.

8. Die mense wat langs die blinde man gewoon het en die ander mense wat hom geken het toe hy ’n bedelaar was, het gevra: “Is dit die man wat altyd gesit en bedel het?”

9. Party mense het gesê: “Ja, dit is hy.”Ander mense het gesê: “Nee, dit is iemand anders wat lyk soos die blinde man.”Toe sê die blinde man: “Dit is ek!”

10. Die mense het vir hom gevra: “Wat het gebeur dat jy kan sien?”

11. Die man het gesê: “’n Man het klei gemaak en hy het dit aan my oë gesmeer. Die man se naam is Jesus. Toe het hy vir my gesê ek moet my in die Siloam-dam gaan was. Ek het dit gedoen en toe kon ek sien.”

12. Hulle het vir hom gevra: “Waar is daardie man?”Hy sê toe: “Ek weet nie.”

13. Die mense het die man wat voorheen blind was, na die Fariseërs toe geneem.

14. Dit was ’n Sabbatdag toe Jesus klei gemaak het en die blinde man laat sien het.

15. Die Fariseërs het ook vir hom gevra hoekom hy nou kan sien. Hy het vir hulle gesê: “’n Man het klei op my oë gesit, ek het my gewas en ek kon sien.”

16. Party Fariseërs het gesê: “Die man wat dit gedoen het, kom nie van God nie, want hy werk op die Sabbatdag.”Ander Fariseërs het gesê: “Iemand wat hierdie wondertekens doen, is nie ’n sondaar nie.”Die Fariseërs het baie met mekaar gestry.

17. Toe vra die Fariseërs weer vir die man wat blind was: “Wat dink jy van die man wat jou laat sien het?”Die man wat blind was, het gesê: “Ek dink hy is ’n profeet.”

Johannes 9