11. Toe het Jesus die brood geneem. Hy het gebid en vir God dankie gesê vir die brood. Jesus het die brood gegee vir die mense wat daar sit. Hy het ook vir hulle van die vis gegee. Daar was baie kos, die mense kon genoeg eet.
12. Toe die mense genoeg geëet het, sê Jesus vir sy dissipels: “Julle moet al die stukkies kos optel wat oorgebly het. Ons moet dit nie mors nie.”
13. Die dissipels het die stukkies bymekaargemaak. Daar het twaalf mandjies vol oorgebly nadat die mense van die vyf garsbrode geëet het.
14. Die mense het gesien dat Jesus ’n wonderteken gedoen het. Hulle sê toe: “Nou weet ons Hy is die Profeet wat na die wêreld toe kom.”
15. Die mense wou Jesus gryp en Hom koning maak. Maar toe Jesus dit sien, het Hy weer weggegaan na die berg. Hy het alleen gegaan.
16. Dit het aand geword, en Jesus se dissipels het na die see gegaan.
17. Hulle het in ’n boot geklim en hulle het probeer om oor die see na die stad Kapernaum te gaan. Later was dit donker en Jesus het nog nie na hulle toe gekom nie.
18. Die branders op die see was wild, want daar het ’n sterk wind gewaai.
19. Toe die dissipels omtrent 25 of 30 stadioi geroei het, sien hulle vir Jesus. Hy het op die see geloop en Hy het naby die boot gekom. Die dissipels het bang geword,
20. maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is Ek! Julle moenie bang wees nie.”
21. Toe wou die dissipels hê Jesus moet in die boot klim. Dadelik daarna het hulle met die boot by die plek aangekom waarnatoe hulle wou gaan.
22. Die volgende dag het die mense wat nog anderkant die see was, gesien daar is net een bootjie. Hulle het geweet Jesus het nie saam met sy dissipels in die boot geklim nie, die dissipels het alleen weggegaan.
23. Daar het ook ander bootjies van die stad Tiberias aangekom naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here Jesus gebid en vir God dankie gesê het.
24. Die mense het gesien Jesus en sy dissipels is nie daar nie. Hulle het toe in die bootjies geklim en hulle het na die stad Kapernaum gegaan om vir Jesus te soek.
25. Toe die mense vir Jesus daar in Kapernaum kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het U hiernatoe gekom?”
26. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle soek My, maar nie omdat julle die wondertekens gesien het wat Ek doen nie. Julle soek My omdat julle so lekker brood geëet het.
27. Julle moenie net werk om kos te kry nie, kos wat sleg word. Julle moet alles doen om die kos te kry wat goed bly tot in die ewige lewe. Ek, die Seun van die mens, sal vir julle daardie soort kos gee. Ek kan dit doen, want God die Vader het gesê Ek mag dit doen.”
28. Toe vra die mense vir Jesus: “Wat moet ons doen as ons wil doen wat God wil hê?”
29. Jesus het vir hulle gesê: “As julle wil doen wat God wil hê, dan moet julle in My glo, want God het My na die wêreld gestuur.”