Johannes 18:17-36 Bybel vir Almal (ABA)

17. Die vrou wat waggestaan het by die hek, het vir Petrus gesê: “Is jy ook een van hierdie man se dissipels?”Petrus het vir haar gesê: “Nee, ek is nie.”

18. Dit was koud. Daarom het die slawe en die wagte vuur gemaak en hulle het hulleself warm gemaak. Petrus het ook by hulle gestaan en hy het homself warm gemaak.

19. Die hoëpriester het vir Jesus vrae gevra oor sy dissipels en oor alles wat Hy vir die mense geleer het.

20. Jesus het vir hom gesê: “Ek het altyd met die mense gepraat waar almal My kon sien. Ek het vir die mense geleer in die sinagoges en in die tempel waar baie Jode bymekaarkom. Ek het vir hulle geleer waar almal dit kon hoor.

21. Hoekom vra jy hierdie dinge vir My? Jy moet vir die mense gaan vra wat My gehoor het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22. Een van die wagte het daar naby gestaan. Toe hy hoor wat Jesus sê, klap hy vir Jesus en sê: “Jy moenie so lelik met die hoëpriester praat nie!”

23. Jesus het vir hom gesê: “As Ek iets verkeerd gesê het, dan moet jy vir My sê wat Ek verkeerd gesê het. Maar as Ek niks verkeerd gesê het nie, dan mag jy My nie klap nie.”

24. Toe het Annas vir Jesus na Kajafas gestuur. Kajafas was die hoëpriester. Jesus was nog vasgebind.

25. Simon Petrus het nog buite by die vuur gestaan en hy het homself warm gemaak. Die ander mense wat daar gestaan het, het vir hom gevra: “Is jy ook een van Jesus se dissipels?”Petrus het gesê: “Nee, ek is nie.”

26. Een van die slawe van die hoëpriester het ook daar gestaan. Hy was familie van die man wie se oor Petrus afgekap het. Hy het vir Petrus gesê: “Ek dink ek het jou saam met Jesus in die tuin gesien.”

27. Maar Petrus het weer gesê hy ken nie vir Jesus nie. Toe het die haan gekraai.

28. Die Jode het vir Jesus gebring van Kajafas se huis na die huis van die goewerneur. Dit was vroeg in die oggend. Hulle het nie in die goewerneur se huis ingegaan nie, want hulle was bang hulle word onrein en dan mag hulle nie die Paas-ete eet nie.

29. Pilatus, die goewerneur, het uitgegaan na die Jode daar buite. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet vir my sê wat hierdie man Jesus verkeerd gedoen het.”

30. Hulle het vir Pilatus gesê: “Jesus het baie verkeerd gedoen. Daarom het ons hom na jou toe gebring sodat jy hom moet straf.”

31. Pilatus het vir hulle gesê: “Julle moet vir Jesus hier wegvat. Gaan kyk wat julle wette sê en dan kan julle self besluit of hy skuldig is.”Die Jode het vir hom gesê: “Nee, ons kan dit nie doen nie, want ons mag nie iemand doodmaak nie.”

32. Dit het gebeur sodat die woorde kan waar word wat Jesus gesê het. Hy het voorheen gesê hoe Hy sal sterf.

33. Pilatus het weer in sy huis ingegaan. Hy het vir Jesus laat roep en hy het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”

34. Jesus het vir Pilatus gevra: “Hoekom vra jy vir My of Ek die koning van die Jode is? Het jy dit self gedink, of het ander mense met jou gepraat oor My?”

35. Pilatus het vir Jesus gesê: “Ek is nie ’n Jood nie! Jou eie mense en die priesterleiers het jou na my toe gebring. Hulle wil hê ek moet jou straf. Jy moet vir my sê wat jy verkeerd gedoen het.”

36. Jesus het vir hom gesê: “Ek is nie ’n koning soos die ander konings op die aarde nie. As Ek so ’n koning is, dan sal my mense veg om My te beskerm, en jy sal My dan nie vir die Jode kan gee nie. Nee, Ek is nie ’n koning soos die ander konings op die aarde nie.”

Johannes 18