Johannes 17:3-15 Bybel vir Almal (ABA)

3. As hulle die ewige lewe het, dan beteken dit hulle ken U, die enigste ware God, en hulle ken My, Jesus Christus, U het My na die wêreld gestuur.

4. “Toe Ek op die aarde was, het Ek vir die mense gewys dat U God is, want U het vir My werk gegee om te doen, en Ek het die werk klaar gedoen.

5. Vader, nou moet U My na U toe neem. Dit sal vir die mense wys dat Ek ook God is. U moet vir hulle wys dat Ek by U was en dat Ek ook God was voordat die wêreld daar was.

6. “U het party van die mense in die wêreld vir My gegee, en Ek het vir hulle vertel van U. Hulle was u mense. U het hulle vir My gegee, en hulle het gedoen wat U gesê het hulle moet doen.

7. Hulle weet nou dat alles wat U vir My gegee het, van U kom.

8. Wat U vir My gesê het, het Ek vir hulle gesê. Hulle het dit gehoor en hulle het geweet dit is waar dat Ek van U kom. Ja, hulle het geglo dat U My na die wêreld gestuur het.

9. “Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, Ek bid nie vir die mense van die wêreld nie. Ja, Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, want hulle behoort aan U.

10. Alles en almal wat aan My behoort, behoort ook aan U. Alles en almal wat aan U behoort, behoort ook aan My. Hulle wys dat Ek God is.

11. Ek sal nie meer lank op die aarde wees nie, maar hulle sal op die aarde wees, en Ek kom na U toe.“Heilige Vader, U het u Naam vir My gegee. Daarom vra Ek dat U hulle moet beskerm met u Naam. Dan kan hulle saamwerk soos Ek en U saamwerk.

12. Toe Ek by hulle was, het Ek u Naam gebruik om hulle te beskerm, die Naam wat U vir My gegee het. Ek het hulle opgepas en hulle het nie verlore gegaan nie. Net een van hulle het verlore gegaan, en hy móés verlore gaan. So het dit waar geword wat in die Ou Testament geskryf is.

13. Nou gaan Ek na U toe. Ek bid al hierdie dinge terwyl Ek nog op die aarde is, want Ek wil die mense bly maak wat U vir My gegee het. Ek wil hulle regtig baie bly maak.

14. “Ek het vir hulle vertel wat U vir My gesê het, en die mense van die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie. Ek behoort ook nie aan die wêreld nie.

15. Ek vra nie dat U hulle moet wegneem uit die wêreld nie. Ek vra dat U hulle moet beskerm teen die duiwel.

Johannes 17