10. Alles en almal wat aan My behoort, behoort ook aan U. Alles en almal wat aan U behoort, behoort ook aan My. Hulle wys dat Ek God is.
11. Ek sal nie meer lank op die aarde wees nie, maar hulle sal op die aarde wees, en Ek kom na U toe.“Heilige Vader, U het u Naam vir My gegee. Daarom vra Ek dat U hulle moet beskerm met u Naam. Dan kan hulle saamwerk soos Ek en U saamwerk.
12. Toe Ek by hulle was, het Ek u Naam gebruik om hulle te beskerm, die Naam wat U vir My gegee het. Ek het hulle opgepas en hulle het nie verlore gegaan nie. Net een van hulle het verlore gegaan, en hy móés verlore gaan. So het dit waar geword wat in die Ou Testament geskryf is.
13. Nou gaan Ek na U toe. Ek bid al hierdie dinge terwyl Ek nog op die aarde is, want Ek wil die mense bly maak wat U vir My gegee het. Ek wil hulle regtig baie bly maak.
14. “Ek het vir hulle vertel wat U vir My gesê het, en die mense van die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie. Ek behoort ook nie aan die wêreld nie.
15. Ek vra nie dat U hulle moet wegneem uit die wêreld nie. Ek vra dat U hulle moet beskerm teen die duiwel.
16. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.
17. “Wat U sê, is die waarheid. Gebruik die waarheid om hulle aan U te wy.
18. U het My na die mense van die wêreld gestuur. So het Ek die mense wat U vir My gegee het, ook na die mense van die wêreld gestuur.
19. Ek wy Myself aan U, Ek word ’n offer sodat die mense kan lewe wat U vir My gegee het. Dan kan U die waarheid gebruik om hulle aan U te wy.
20. “Ek bid nie net vir hierdie mense nie. Ek bid ook vir die ander mense wat in My sal glo omdat hierdie mense vir hulle sal vertel van My.
21. Vader, Ek bid dat hulle almal sal saamwerk. Dan sal hulle by Ons wees soos U by My is en soos Ek by U is. Dan sal die mense van die wêreld glo dat U My na die wêreld gestuur het.
22. U het gesê Ek is God, en so het Ek ook vir hulle die ewige lewe gegee. Daarom kan hulle saamwerk, soos Ons saamwerk.
23. Ek sal by hulle wees en U sal by My wees. Dan sal hulle waarlik saamwerk en die mense van die wêreld sal weet U het My na die wêreld gestuur. Hulle sal ook weet U is lief vir die mense wat U vir My gegee het, U is lief vir hulle, soos U lief is vir My.
24. “Vader, Ek gaan nou na die hemel. Ek wil graag hê die mense wat U vir My gegee het, moet ook daar saam met My wees. Dan kan hulle sien Ek is God. U het vir My hierdie eer gegee, want U was lief vir My, ook voordat die wêreld daar was.
25. Regverdige Vader, die mense van die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en die mense wat U vir My gegee het, weet U het My na die wêreld gestuur.