38. Toe Jesus by die graf kom, het Hy weer baie hartseer geword. Die graf was ’n grot en daar was ’n klip voor die ingang.
39. Jesus het gesê hulle moet die klip wegrol. Marta, die suster van Lasarus, het vir Jesus gesê: “Nee, Here, ons kan dit nie doen nie. Lasarus is vier dae in die graf en dit sal sleg ruik.”
40. Jesus het vir haar gesê: “Ek het vir jou gesê jy moet glo, dan sal jy sien God sal wys dat Hy God is.”
41. Die Jode het die klip weggerol. Jesus het na die hemel gekyk en gesê: “Vader, dankie dat U my gebed hoor.
42. Ek sê dit sodat die mense wat hier rondom My staan, kan glo dat U My na die wêreld gestuur het. Ek weet U luister altyd na my gebed.”
43. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy hard geskree en gesê: “Lasarus, kom uit die graf!”
44. Lasarus, die man wat gesterf het, het uit die graf gekom. Die grafdoeke was nog om sy voete en hande, en daar was ’n kopdoek oor sy gesig. Jesus het vir hulle gesê: “Haal die grafdoeke van Lasarus af sodat hy huis toe kan gaan.”
45. Baie Jode wat na Maria toe gekom het, het gesien hoe Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo.
46. Maar party Jode het na die Fariseërs toe gegaan en het vir hulle vertel wat Jesus gedoen het.
47. Die priesterleiers en die Fariseërs het vergadering gehou. Hulle het gesê: “Jesus doen so baie wondertekens, ons weet nie wat ons moet doen nie.
48. As ons niks aan Jesus doen nie, dan sal al die mense in hom glo. Dan sal die Romeine ons tempel afbreek en ons volk verwoes.”
49. Kajafas was een van die mense wat by die vergadering was. Hy was daardie jaar die hoëpriester. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet niks,
50. julle verstaan nie dat dit beter is as een mens sterf en nie die hele volk nie. Dan sal die hele volk nie verlore gaan nie.”