Jeremia 42:8-21 Bybel vir Almal (ABA)

8. Hy het na Joganan toe gegaan en na al die offisiere wat by hom was, en hy het al die mense geroep, die onbelangrike en die belangrike mense.

9. Hy het vir hulle gesê: “Julle het my gestuur na die Here toe, die God van Israel, om vir Hom te sê wat julle vra. Die Here sê:

10. As julle aanhou woon in hierdie land, dan sal Ek julle bou, Ek sal julle nie afbreek nie. Ek sal julle plant, Ek sal julle nie uitruk nie, want Ek is jammer dat Ek julle laat swaarkry het.

11. Julle moenie bang wees vir die koning van Babel nie, julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle om julle te red en julle vry te maak van hom.

12. Ek sal genadig wees vir julle, en dan dan sal hy vir julle genadig wees en julle terugbring na julle land.

13. “Maar as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie, as julle nie wil doen wat julle God die Here vir julle sê nie, dan sal dit sleg gaan met julle.

14. Julle sê: ‘Nee, ons wil na Egipte gaan. Daar sal nie oorlog wees nie, ons sal nie die ramshoring hoor blaas nie. En ons sal genoeg kos hê. Ons wil daar gaan woon.’

17. Al die manne wat besluit om na Egipte te gaan en daar vreemdelinge te wees, sal sterf in oorlog of van honger of pes. Nie een sal kan vlug en wegkom van die swaarkry wat Ek oor hulle sal bring nie.

18. Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Ek het kwaad geword vir die mense van Jerusalem en Ek het hulle gestraf. So sal Ek kwaad word vir julle en Ek sal julle straf as julle na Egipte gaan. Die mense sal julle name gebruik wanneer hulle ander mense wil vervloek of laat skrik of verneder of spot. En julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.

19. “Mense van Juda, die Here sê vir julle wat nog lewe, julle moenie na Egipte gaan nie. Julle moet goed besef ek waarsku julle vandag.

20. Want julle maak ’n fout, en dit kan julle laat sterf. Júlle het my na julle God die Here toe gestuur en julle het vir my gevra: ‘Bid vir ons tot ons God die Here. Jy moet vir ons alles sê wat Hy sê, en ons sal dit doen.’

21. Maar toe ek vandag vir julle die boodskap van julle God bring, het julle nie geluister na Hom nie.

Jeremia 42