5. Julle moet luister na wat my dienaars, die profete, vir julle gesê het. Ek het aangehou om hulle na julle toe te stuur, maar julle het nie geluister nie.
6. As julle nie luister nie, dan sal Ek dieselfde met hierdie tempel doen wat Ek met die tempel in Silo gedoen het. En al die volke op die aarde sal hierdie stad se naam noem wanneer hulle ander volke wil vervloek.”
7. Die priesters en die profete en al die mense van Jerusalem het gehoor toe Jeremia hierdie dinge in die tempel gesê het.
8. Toe hy alles klaar gesê het wat die Here vir hom gesê het om vir al die mense te sê, het die priesters en die profete en al die mense hom gegryp en gesê: “Jy moet sterf. Dit is seker.
9. Hoekom sê jy die Here het jou gestuur om te sê hierdie tempel sal afgebreek word soos die tempel in Silo en hierdie stad sal ’n hoop klippe word waar niemand woon nie?”Al die mense het bymekaargekom in die tempel en hulle was téén Jeremia.
10. Die amptenare van Juda het gehoor wat gebeur het, en hulle het uit die paleis na die tempel gekom. Hulle het gaan sit in die Nuwe Poort van die tempel.
11. Die priesters en die profete het toe vir die amptenare en vir al die mense gesê: “Hierdie man moet sterf, want hy sê die Here het hom gestuur om slegte dinge teen hierdie stad te sê. Julle het dit self gehoor.”
12. Jeremia het vir die amptenare en vir al die mense gesê: “Die Here hét my gestuur om alles teen hierdie tempel en hierdie stad te sê wat julle gehoor het.
13. En nou moet julle reg lewe en goeie dinge doen en gehoorsaam wees aan julle God. As julle dit doen, dan sal die Here julle nie straf soos Hy gesê het nie.
14. En ek, hier is ek, en julle mag nou besluit oor my, julle moet met my doen wat julle dink is goed en reg.
15. Maar julle moet dit baie goed besef, as julle my doodmaak, dan maak julle ’n onskuldige man dood. En dan sal die Here hierdie stad en sy mense straf, want Hy het regtig vir my gestuur om vir julle al hierdie dinge te sê.”
16. Die amptenare en al die mense het toe vir die priesters en die profete gesê: “Ons mag nie hierdie man doodmaak nie, want ons God die Here het hom gestuur om met ons te praat.”