Genesis 42:4-16 Bybel vir Almal (ABA)

4. Jakob het nie vir Benjamin saam met sy broers laat gaan nie. Hy was bang daar gebeur miskien iets met Benjamin. Benjamin en Josef was seuns van dieselfde ma.

5. So het Israel se seuns saam met ander mense van Kanaän gegaan om koring in Egipte te koop, omdat daar min kos in Kanaän was.

6. Josef was die hoof van die land en hy het die koring aan die mense verkoop. Josef se broers het gekom en hulle het voor hom gebuig.

7. Toe Josef sy broers sien, het hy geweet dat dit sy broers is, maar hy het gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kwaai met hulle gepraat en vir hulle gevra: “Van waar kom julle?”Hulle het gesê: “Ons kom van Kanaän. Ons kom kos koop.”

8. Josef het sy broers herken, maar hulle het nie geweet dat dit Josef is nie.

9. Josef dink toe aan die droom wat hy oor hulle gehad het en hy sê vir hulle: “Julle is spioene. Julle het gekom om te kyk waar julle die land kan aanval.”

10. Hulle sê toe vir hom: “Nee, Meneer, ons het gekom om kos te koop.

11. Ons is almal seuns van een pa. Ons is eerlike mense, ons is nie spioene nie.”

12. Maar Josef het vir hulle gesê: “Nee, julle het gekom om te kyk waar julle die land kan aanval.”

13. Hulle het gesê: “Ons was twaalf broers, ons is die seuns van een man in Kanaän. Die jongste seun is nog by ons pa, en een seun is dood.”

14. Josef sê toe vir hulle: “Dit is soos ek vir julle gesê het. Julle is spioene.

15. Ek sal julle toets: Julle sal nie hier weggaan voordat julle jongste broer ook hiernatoe gekom het nie, so seker soos die farao lewe.

16. Een van julle moet julle broer gaan haal, maar julle ander moet hier in die tronk bly. So sal ek uitvind of julle die waarheid praat of nie. Julle is spioene, so seker soos die farao lewe.”

Genesis 42