Genesis 27:31-44 Bybel vir Almal (ABA)

31. Esau maak toe ook ’n lekker ete gaar en bring dit vir sy pa en sê vir hom: “Pa, sit asseblief regop en eet van my wildsvleis, sodat Pa my kan seën.”

32. Isak vra toe vir hom: “Wie is jy?”En hy antwoord: “Ek is jou oudste seun Esau.”

33. Toe skrik Isak baie groot en hy begin bewe. Hy vra toe vir Esau: “Iemand het ’n wildsbok geskiet en hy het dit vir my gebring. Wie was dit? Ek het van alles geëet en ek het hom geseën voordat jy gekom het. En ek kan nie sy seën wegvat nie.”

34. Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard geskree en begin huil. Hy sê toe vir sy pa: “Pa, seën asseblief ook vir my.”

35. Isak het gesê: “Dit is jou broer wat my bedrieg het en wat jou seën gevat het.”

36. En Esau sê: “Ja, sy naam is Jakob, hy is skelm. Hy het my twee maal bedrieg. Hy het my regte gevat en nou het hy ook my seën gevat. Kan Pa my ook seën?”

37. Isak het vir Esau gesê: “Ek het klaar gesê Jakob sal jou hoof wees. Jakob se hele familie sal hom dien. Ek het hom geseën, en hy sal altyd baie koring en wyn hê. My seun, wat is daar nog wat ek vir jou kan gee?”

38. Toe sê Esau vir sy pa: “Het Pa net een seën? Seën my ook asseblief.”En Esau het hard begin huil.

39. Sy pa sê toe vir hom:“Jy sal ver weg woonvan die dinge van die aardewat mense ryk laat word,ver van die douvan die hemel daarbo.

40. Jy sal moet oorlog maakom te leween jy sal jou broermoet dien.Maar as jy hard probeer,dan sal jy vry word.”

41. Esau het vir Jakob gehaat omdat sy pa vir Jakob geseën het. Esau het gedink: My pa sal nie meer lank lewe nie, en wanneer hy dood is, dan sal ek vir Jakob doodmaak.

42. Die slawe het vir Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het, en sy het iemand gestuur om vir Jakob te roep. Sy het vir hom gesê: “Pasop! Jou broer Esau is so kwaad dat hy jou wil doodmaak.

43. My seun, luister nou mooi wat ek vir jou sê. Jy moet na my broer Laban toe vlug. Hy woon in die land Haran,

44. jy moet ’n tyd lank by hom bly totdat jou broer nie meer kwaad is nie.

Genesis 27