2. Die mense het van die ooste getrek en by ’n vallei in die land Babel gekom. Hulle het daar gaan woon.
3. Hulle het vir mekaar gesê: “Kom ons maak bakstene.”Hulle het toe die stene gebruik om huise te bou. Hulle het stene gebruik, nie klippe nie, en hulle het teer gebruik, nie klei nie.
4. Hulle sê toe: “Kom ons bou vir ons ’n stad en ’n baie hoë toring. Die punt van die toring moet aan die hemel raak. Dan sal al die mense weet van ons. Kom ons doen dit, dan sal ons nie oral op die aarde moet gaan woon nie.”
5. Die Here het afgekom om te kom kyk na die stad en die toring wat die mense bou.
6. Die Here sê toe: “Kyk, hierdie mense is nou een volk en hulle praat almal dieselfde taal. En hulle het nou net begin. Hierna sal hulle alles regkry wat hulle wil doen.
7. Kom Ons gaan af daarnatoe en maak hulle taal deurmekaar, sodat hulle mekaar nie kan verstaan nie.”
8. Die Here het die mense oral op die aarde laat woon, van die stad af en verder. Hulle het opgehou om die stad te bou.
9. Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here die mense se taal deurmekaar gemaak en van daardie plek het Hy die mense laat gaan om oral op die aarde te woon.
10. Hier is die lys van Sem se nageslag. Sem was 100 jaar oud toe hy pa geword het van Arpaksad. Dit was twee jaar ná die watervloed.
11. Nadat Arpaksad gebore is, het Sem nog 500 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.
12. Toe Arpaksad 35 jaar oud was, het hy pa geword van Selag.
13. Daarna het Arpaksad nog 403 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.