1. Die man het my teruggebring na die deur van die tempel, en daar kom toe water uit onder die tempel se drumpel! Die water het oos gevloei, want die tempel se voorkant was by die oostekant. Die water het regs van die tempel weggevloei, suid van die altaar.
2. Toe bring die man my deur die buitenste noord-poort en hy laat my buite-om loop na die buitenste oos-poort. En daar, regs van die poort, het ’n klein bietjie water gevloei.
3. Die man het na die oostekant geloop. Hy het ’n maatlyn in sy hand gehad en hy het 1 000 el gemeet. Toe het hy my deur die water laat loop. Die water het tot by my enkels gekom.
4. Toe meet die man nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my knieë gekom. Toe meet hy nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my heupe gekom.
5. Toe meet hy nog 1 000 el, en toe was dit ’n rivier, ek kon nie daardeur gaan nie. Die water was so diep dat ek sou moes swem. Dit was ’n rivier, ’n mens kon nie daardeur loop nie.
6. Die man sê toe vir my: “Mens, het jy dit gesien?”Hy het my op die wal van die rivier laat terugloop.
7. Terwyl ek terugloop, het ek gesien daar is baie groot bome op die wal van die rivier, langs altwee kante.