Esegiël 40:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. Die man het gemeet hoe breed die poort is waar ’n mens ingaan. Dit was tien el. Die poort was 13 el lank.

12. Daar was ’n lae muur voor die kamers langs altwee kante. Die muur was een el hoog. Die kamers langs altwee kante was ses el breed.

13. Die man het ook gemeet hoe breed die poort is, van die een buitemuur tot by die ander buitemuur. Dit was 25 el. Die deure van die kamers was oorkant mekaar.

14. Hy het ook die voorportaal gemeet. Dit was 60 el tot by die eerste pilaar van die oop stuk grond agter die poort.

15. Dit was 50 el van die voorkant van die poort waar ’n mens kon ingaan, tot by die voorkant van die voorportaal van die binneste poort.

16. Daar was vensters in die mure van al die kamers en teen die pilare by die binnekant van die poort. Daar was hortjies voor die vensters. Daar was ook vensters in al die mure van die voorportaal. Op die pilare was prente van palmbome.

17. Die man het my toe na die buitenste oop stuk grond geneem. Rondom die oop stuk grond was daar kamers en plaveisel. Daar was 30 kamers langs die plaveisel.

18. Die plaveisel was langs die poorte en dit was so lank soos die poorte. Dit was die onderste plaveisel.

19. Die man het gemeet hoe ver dit is van die voorkant van die onderste poort tot by die buitekant van die binneste oop stuk grond. Dit was 100 el by die oostekant en by die noordekant.

20. Die man het ook gemeet hoe lank en hoe breed die buitenste noord-poort langs die buitenste oop stuk grond is.

21. Die poort het ook langs elke kant drie kamers gehad, en sy pilare en sy voorportaal was so groot soos die eerste poort. Die poort was ook 50 el lank en 25 el breed. ’n

22. Die vensters en die pilare en die palmbome in hierdie poort was so groot soos die vensters en pilare in die poort by die oostekant. ’n Mens kon teen sewe trappe opgaan in die poort. Daar was ’n voorportaal by die binnekant.

Esegiël 40