Esegiël 22:11-27 Bybel vir Almal (ABA)

11. Die een man doen slegte dinge met ’n ander man se vrou, die ander man doen dit met sy skoondogter en hy maak haar onrein, die ander man doen dit met sy halwe suster, sy pa se dogter.

12. Daar is mense wat geld vat om mense te laat sterf. Daar is mense wat vir ander mense geld leen en wat dan sê dat die ander mense rente moet betaal, te veel rente. Daar is mense wat ander mense bedrieg en wat hulle goed vat. Maar vir Mý het julle vergeet.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

13. “Julle moet dit weet, Ek is verbaas en kwaad, want julle vat dinge wat nie aan julle behoort nie en julle vermoor mense.

14. Die tyd kom wanneer Ek met julle sal doen wat Ek wil doen. Sal julle dan nog dink dat julle sterk is? Nee, Ek, die Here, het gepraat en Ek sal dit doen.

15. Ek sal julle na al die kante toe jaag, tussen die ander volke in, en Ek sal julle in ander lande laat woon. Ek sal al die onrein mense wegvat uit Jerusalem.

16. Al die volke weet dat julle julleself onrein gemaak het. Maar julle sal weet dat Ek die Here is.”

17. Ek het gehoor die Here sê vir my:

18. “Mens, die volk Israel het vir My geword soos die skuim wanneer iemand silwer-erts smelt in ’n oond. Maar hulle is nie silwer nie, hulle is almal koper of tin of yster of lood.”

19. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Julle het almal soos skuim geword, daarom sal Ek julle nou in Jerusalem bymekaarbring.

20. Ek sal julle daar bymekaarbring soos ’n mens silwer en koper en yster en lood bymekaargooi in ’n smelt-oond en vuur maak om dit te laat smelt. Ek sal julle in Jerusalem laat smelt, want Ek is kwaad vir julle, baie kwaad.

21. Ek sal julle almal saam laat brand in Jerusalem, want Ek is kwaad, Ek sal julle laat smelt.

22. Julle sal in Jerusalem smelt soos silwer smelt in ’n smelt-oond. Julle sal weet en voel dat Ek kwaad is vir julle.”

23. Ek het gehoor die Here sê vir my:

24. “Mens, jy moet vir die land Israel sê: Israel, jy is ’n land waar die mense nie meer rein kan word nie. Die dag het gekom wanneer Ek hulle sal straf. Daar sal niks reën op jou val nie.

25. Die leiers wat oor die land regeer, is soos leeus wat brul en alles doodbyt. Hulle het mense doodgemaak en hulle het die kosbare goed vir hulleself gevat, hulle het baie vroue in die land weduwees laat word.

26. Die priesters het my wette verkeerd verduidelik. Hulle het my gewyde dinge ontwy, hulle het nie die gewyde dinge apart gehou van die dinge wat nie gewy is nie, hulle het nie vir die mense geleer wat is rein en wat is onrein nie. Hulle maak of die Sabbatdag dieselfde is soos ’n ander dag. Hulle dink nie meer Ek is heilig nie.

27. Die amptenare in die land is soos wolwe wat diere doodbyt en hulle bloed laat vloei. Hulle vermoor mense om daardie mense se goed te kan vat.

Esegiël 22