39. Die Here, Hy wat Here is, sê: “En julle, volk Israel, as julle nie gehoorsaam wil wees aan My nie, dan moet elkeen van julle sy afgode gaan dien. Maar julle moenie aanhou om my heilige Naam te ontwy nie. Julle doen dit wanneer julle presente bring en wanneer julle afgode dien.”
40. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Dit is seker, die hele volk Israel sal My dien op my gewyde berg, op die hoë berg van Israel. Almal in die land, die hele volk Israel, sal My daar dien. Daar sal Ek hulle aanvaar en daar sal Ek julle presente wil hê en julle beste offers saam met alles wat julle aan My wy.
41. Ek het julle na ander lande gejaag, maar Ek sal julle tussen daardie volke uitbring en Ek sal julle bymekaarmaak. Julle sal dan vir My wees soos ’n wierook-offer. Die volke sal sien dat Ek die heilige God vir julle is.
42. Julle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek julle bring na die land Israel, na die land wat Ek aan julle voorvaders belowe het.
43. Daar sal julle onthou hoe julle gelewe het en wat julle alles gedoen het toe julle julleself onrein laat word het. Julle sal naar en siek voel oor al die slegte dinge wat julle gedoen het.
44. Volk Israel, julle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek vir julle wys wie Ek is en wanneer Ek julle nie straf oor julle slegte lewe en oor die slegte dinge wat julle gedoen het nie.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
45. Ek het gehoor die Here sê vir my:
46. “Mens, jy moet jou gesig na die suide draai, jy moet praat teen die suide, jy moet my boodskap bring na die bos in die Suid-land.
47. Jy moet vir die bos in die Suid-land sê: Jy moet hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal ’n vuur aansteek teen jou, en die vuur sal elke groen boom en elke droë boom in jou verbrand. Niemand sal die vlamme kan doodmaak wat brand nie. Almal se gesigte sal brand, van die suide tot die noorde.
48. Almal wat lewe, sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het, en niemand sal die vuur doodmaak nie.”
49. Ek het toe gesê: “Ag, Here, my Here, die mense sê ek probeer om slim dinge te sê wat hulle nie kan verstaan nie.”