Esegiël 20:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dit was in die sewende jaar, op die tiende dag van die vyfde maand. Party van die leiers van Israel het gekom om vir die Here te vra wat sal gebeur, en hulle het voor my kom sit.

2. Ek het gehoor die Here sê vir my:

3. “Mens, jy moet praat met die leiers van Israel. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Het julle gekom om vir My te vra wat sal gebeur? Ek sal julle nie antwoord nie, dit is seker, so seker soos Ek lewe.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

4. “Mens, sal jy hulle oordeel, sal jy hulle oordeel? Dan moet jy vir hulle vertel van die dinge wat hulle voorvaders gedoen het, dinge wat Ek haat.

5. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Die dag toe Ek vir Israel gekies het en toe Ek vir die nageslag van die huisgesin van Jakob belowe het wat Ek sal doen, daardie dag het Ek in die land Egipte gewys het wie Ek is, en Ek het vir hulle belowe en gesê: Ek is julle God die Here.

6. Daardie dag het Ek vir hulle belowe dat Ek hulle uit Egipte sal bring na ’n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, ’n land waar daar baie melk en heuning is, die mooiste van al die lande.

7. “En Ek het vir hulle gesê: ‘Julle almal hou van die vuil afgode, maar julle moet hulle weggooi. Julle moenie julleself onrein maak met die afgode van Egipte nie. Ek is julle God die Here.’

8. Maar hulle was opstandig teen My, hulle wou nie luister na My nie. Nie een van hulle het die vuil afgode waarvan hy hou, weggegooi nie, hulle het nie die afgode van Egipte gelos nie. Ek het gedink Ek sal hulle daar in Egipte straf en Ek sal aanhou totdat Ek nie meer kwaad is nie.

9. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Die Israeliete het tussen ander volke gewoon, en daardie volke het gehoor dat Ek belowe het om die Israeliete uit Egipte te bring. Ek is die Here, Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie.

10. Ek het die Israeliete toe uit Egipte laat kom en Ek het hulle na die woestyn gebring.

11. Ek het vir hulle gesê wat Ek wil hê hulle moet doen. Ek het vir hulle geleer om te weet dat hulle sal aanhou lewe as hulle doen wat Ek besluit.

12. Ek het ook vir hulle my Sabbatdae gegee, dit was ’n teken tussen My en hulle. Hulle moes weet dat Ek, die Here, hulle gekies het om my gewyde volk te wees.

13. Maar die volk Israel was opstandig teen My in die woestyn. Hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te ontwy, en Ek het gedink Ek sal hulle daar in die woestyn straf en hulle almal doodmaak.

14. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Ek is die Here. Die ander volke het gesien dat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het en Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie.

15. Ek het ook daar in die woestyn vir hulle gesê dat Ek hulle nie by die land sal bring wat Ek vir hulle wou gee nie, ’n land waar daar baie melk en heuning is, die mooiste van al die lande.

16. Ek het dit gesê omdat hulle gedink het die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en omdat hulle nie gelewe het soos Ek wil hê nie en omdat hulle my Sabbatdae ontwy het. Hulle het die afgode gedien wat hulle graag wou hê.

Esegiël 20