Esegiël 16:42-49 Bybel vir Almal (ABA)

42. Wanneer Ek jou klaar gestraf het, dan sal Ek ophou om kwaad te wees. Dan sal Ek weer kalm word en vrede in my hart hê.

43. Ek straf jou soos Ek jou moet straf oor wat jy gedoen het. Ek doen dit omdat jy vergeet het wat gebeur het toe jy jonk was. Jy het My baie kwaad gemaak toe jy al hierdie dinge gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.“Ek haat al hierdie dinge wat jy doen, jy het sleg gelewe.

44. Luister, die mense wat graag spreekwoorde maak, sal oor jou ook ’n spreekwoord maak. Hulle sal sê: ‘Soos die ma is, so is haar dogter.’

45. Jy is jou ma se dogter, jou ma wat haar man en haar kinders gehaat het. Jy is jou susters se suster, jou susters wat hulle mans en hulle kinders gehaat het. Julle ma was ’n Hetiet en julle pa was ’n Amoriet.

46. Samaria is jou oudste suster. Sy en haar dogters het noord van jou gewoon. Sodom is jou jonger suster. Sy en haar dogters het suid van jou gewoon.

47. Jy het soos hulle gelewe en jy het die dinge gedoen wat hulle gedoen het, die dinge wat Ek haat. Maar jy was nie tevrede nie, jy het nog slegter as hulle gelewe.”

48. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jou suster Sodom en haar dogters het nie so baie sonde gedoen soos jy en jou dogters nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.

49. Luister, jou suster Sodom was trots en selfsugtig. Sy en haar dogters het baie kos gehad, te veel kos, maar hulle het niks gedoen om mense te help wat hulleself nie kon help nie, mense wat niks gehad het nie.

Esegiël 16