9. “Ek sal julle uit die stad uitgooi. Ek sal ander volke bring om oorlog te maak teen julle en Ek sal hulle laat wen. Ek sal julle straf.
10. Julle sal op die grens van die land Israel in die oorlog sterf. Ek sal julle straf, en julle sal weet dat Ek die Here is.
11. Die stad sal nie vir julle die pot wees en julle sal nie die vleis in die pot wees nie. Ek sal julle straf op die grens van die land Israel.
12. Dan sal julle weet dat Ek die Here is. Julle het nie gelewe soos Ek gesê het nie en julle het nie gedoen wat Ek wou hê nie, julle het gedoen wat die heidene wou hê, die heidene wat rondom julle woon.”
13. Terwyl ek besig was om te sê wat die Here sê, het Pelatja seun van Benaja gesterf. Ek het gaan lê met my gesig teen die grond. Ek het hard geskree en gevra: “Ag, Here, U wat Here is, is U besig om almal van Israel wat nog lewe, te laat sterf?”
14. Toe hoor ek die Here sê vir my:
15. “Mens, die mense wat in Jerusalem woon, praat van jou broers, van jou mense wat in Babel woon, en van die hele volk Israel. Hulle praat van almal en hulle sê: ‘Hulle almal is ver weg van die Here. Hy het hierdie land vir óns gegee, dit is nou ons land.’
16. Daarom moet jy sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek het hulle ver weggevat na die heidene toe en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Toe het Ek self vir hulle ’n bietjie soos ’n tempel geword in elke land waar hulle gekom het.
17. Daarom moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek het julle na baie lande laat gaan, maar Ek sal julle bymekaarmaak uit daardie volke, Ek sal julle laat bymekaarkom uit al daardie lande. Ek sal weer die land Israel vir julle gee.
18. Dan sal hulle hiernatoe kom en hulle sal al die slegte, lelike goed wat Ek haat, wegvat uit die stad.
19. Ek sal vir hulle ’n ander hart gee, en daar sal ’n nuwe gees in hulle wees. Ek sal die klip-harte uit hulle liggame wegvat en Ek sal vir hulle vleis-harte gee.