Eksodus 32:3-16 Bybel vir Almal (ABA)

3. Toe haal al die mense die goue ringe van hulle ore af en hulle bring dit vir Aäron.

4. Hy het dit geneem en gesmelt. Hy het ’n beeld van ’n bul-kalf daarvan gemaak. Toe sê die Israeliete: “Hierdie is ons god, hy het ons uit Egipte gebring.”

5. Toe Aäron dit sien, het hy ’n altaar voor die beeld gebou en gesê: “Môre vier ons ’n fees vir die Here.”

6. Hulle het vroeg die volgende oggend opgestaan en hulle het brand-offers en ete-offers na die altaar gebring. Die Israeliete het gaan sit om te eet en hulle het wyn gedrink. Daarna het hulle opgestaan en wild feesgevier.

7. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af van die berg en gaan na jou volk toe wat jy uit Egipte gebring het. Hulle het groot sonde gedoen.

8. Hulle het gou vergeet wat Ek vir hulle gesê het. Hulle het vir hulle ’n beeld van ’n bul-kalf gemaak en hulle het voor die beeld gebuig. Hulle het vir hom offers gebring en gesê: ‘Israeliete, hier is julle god, hy het julle uit Egipte gebring.’ ”

9. Die Here het vir Moses gesê: “Ek het na hierdie volk gekyk, en Ek het gesien hulle is baie hardkoppig.

10. Moenie probeer om My te keer nie. Ek is baie kwaad vir hulle en Ek wil hulle almal doodmaak. Dan sal Ek jou nageslag ’n groot volk maak.”

11. Moses het mooi gepraat met sy God die Here en Moses het Hom gesoebat om sy plan te verander. Hy het gesê: “Here, hoekom is U kwaad vir u volk? U het hulle uit Egipte gebring. U het hulle met u groot krag vrygemaak.

12. As U hulle nou doodmaak, dan sal die Egiptenaars sê: ‘Die Here het die Israeliete gered, maar Hy het ’n skelm plan gehad. Hy wou hulle doodmaak in die berge en Hy wou hulle almal heeltemal wegvee van die aarde af.’ Here, moenie kwaad wees vir u volk nie. Verander asseblief u planne en moenie hulle doodmaak nie.

13. U moet onthou wat U self belowe het vir u dienaars Abraham en Isak en Jakob. U het vir hulle gesê: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie hele land vir julle nageslag gee, en dit sal altyd aan hulle behoort.’ Here, U was self die getuie toe U dit vir hulle belowe het.”

14. Die Here het sy plan verander en Hy het besluit om nie sy volk te straf nie.

15. Moses het omgedraai en afgekom van die berg. In sy hande was die twee plat klippe waarop die tien gebooie was. Die Here het op altwee kante van die klippe geskryf, op die voorkant en op die agterkant.

16. Dit was God se werk, God het self die plat klippe gemaak en Hy het self die woorde daarop geskryf.

Eksodus 32