5. Jetro, Moses se skoonpa, het nou Moses se twee seuns en sy vrou na hom toe gebring. Moses het daar in die woestyn by die berg van God sy tente opgeslaan.
6. Jetro het ’n boodskap vir Moses gestuur. Jetro het gesê: “Ek, jou skoonpa Jetro, kom na jou toe, en jou vrou en haar twee seuns kom ook saam.”
7. Moses het sy skoonpa gaan ontmoet. Hy het voor hom gebuig en hom gesoen. Hulle het vir mekaar gevra hoe dit gaan en hulle het in Moses se tent ingegaan.
8. Moses het vir sy skoonpa alles vertel wat die Here met die farao en die Egiptenaars gedoen het omdat die Here die Israeliete wou help. Hy het ook vertel van al die probleme wat die Israeliete gehad het voordat hulle by die berg van God gekom het, en hoe die Here hulle gered het.
9. Jetro was bly oor al die goeie dinge wat die Here vir die Israeliete gedoen het toe Hy hulle gered het van die Egiptenaars.
10. Jetro het gesê: “Ek prys die Here wat julle gered het van die Egiptenaars en van die farao.
11. Nou weet ek dat die Here groter is as al die gode. Hy het die Israeliete gered toe die Egiptenaars baie slegte dinge aan hulle gedoen het.”
12. Jetro, Moses se skoonpa, het ’n brand-offer en ander offers vir God gebring. Aäron en al die leiers van die Israeliete het gekom om die offer-ete saam met Moses se skoonpa te eet.
13. Moses het die volgende dag begin om te luister na die mense wat probleme het met mekaar, en om te oordeel wie is reg. Die mense het van die oggend tot die aand na Moses toe gekom.
14. Sy skoonpa het alles gesien wat Moses vir die mense doen. Hy het gesê: “Wat doen jy alles vir die mense? Hoekom doen jy dit alleen en hoekom moet al die mense van die oggend tot die aand vir jou wag?”
15. Moses sê toe vir sy skoonpa: “Die mense kom na my toe om te hoor wat God sê.
16. Wanneer hulle probleme met mekaar het, dan kom hulle na my toe. Ek sê wie is reg en wie is verkeerd. So leer ek vir hulle wat God wil hê hulle moet doen.”
17. Moses se skoonpa sê toe vir hom: “Jy maak ’n fout.
18. Jy sal baie moeg word, jy en hierdie mense wat by jou is. Dit is te moeilik vir jou, jy kan dit nie alleen doen nie.
19. Luister nou na wat ek vir jou sê. Ek sal vir jou sê wat jy moet doen, en God sal jou help. Jy moet met God praat oor die mense, en jy moet hulle probleme na God toe bring.
20. Jy moet vir hulle leer wat God wil hê hulle moet doen. Jy moet vir hulle wys hoe om reg te lewe en wat hulle moet doen.
21. Jy moet uit die hele volk manne kies wat weet wat om te doen en wat vir God eer. Hulle moet eerlik wees en nie net vir hulleself sorg nie. Hulle moet dan die leiers wees, leiers van 1 000 mense, of van 100 mense of 50 mense of tien mense.