Eksodus 18:11-20 Bybel vir Almal (ABA)

11. Nou weet ek dat die Here groter is as al die gode. Hy het die Israeliete gered toe die Egiptenaars baie slegte dinge aan hulle gedoen het.”

12. Jetro, Moses se skoonpa, het ’n brand-offer en ander offers vir God gebring. Aäron en al die leiers van die Israeliete het gekom om die offer-ete saam met Moses se skoonpa te eet.

13. Moses het die volgende dag begin om te luister na die mense wat probleme het met mekaar, en om te oordeel wie is reg. Die mense het van die oggend tot die aand na Moses toe gekom.

14. Sy skoonpa het alles gesien wat Moses vir die mense doen. Hy het gesê: “Wat doen jy alles vir die mense? Hoekom doen jy dit alleen en hoekom moet al die mense van die oggend tot die aand vir jou wag?”

15. Moses sê toe vir sy skoonpa: “Die mense kom na my toe om te hoor wat God sê.

16. Wanneer hulle probleme met mekaar het, dan kom hulle na my toe. Ek sê wie is reg en wie is verkeerd. So leer ek vir hulle wat God wil hê hulle moet doen.”

17. Moses se skoonpa sê toe vir hom: “Jy maak ’n fout.

18. Jy sal baie moeg word, jy en hierdie mense wat by jou is. Dit is te moeilik vir jou, jy kan dit nie alleen doen nie.

19. Luister nou na wat ek vir jou sê. Ek sal vir jou sê wat jy moet doen, en God sal jou help. Jy moet met God praat oor die mense, en jy moet hulle probleme na God toe bring.

20. Jy moet vir hulle leer wat God wil hê hulle moet doen. Jy moet vir hulle wys hoe om reg te lewe en wat hulle moet doen.

Eksodus 18