Eksodus 12:20-29 Bybel vir Almal (ABA)

20. Julle mag nie brood eet wat suurdeeg in het nie. Julle moet ongesuurde brood eet in al julle huise.’ ”

21. Moses het al die leiers van die Israeliete geroep en hy het vir hulle gesê: “Elkeen moet vir sy huisgesin ’n skaap of ’n bok gaan vang en hy moet dit vir die Paasfees slag.

22. Dan moet julle elkeen ’n bossie hisop neem, dit in die bloed druk en die bloed smeer aan sy deur se raam. Niemand mag uit sy huis gaan voor die volgende oggend nie.

23. Wanneer die Here verbykom om die Egiptenaars dood te maak, dan sal Hy die bloed aan die deur se raam sien en dan sal Hy verbygaan. Hy sal nie die dood by julle huise laat inkom om julle te laat sterf nie.

24. Julle en julle nageslag moet altyd gehoorsaam wees en julle moet hierdie fees vier.

25. Wanneer julle kom in die land wat die Here belowe het om vir julle te gee, dan moet julle altyd hierdie fees vier.

26. En wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie fees?’

27. dan moet julle sê: ‘Dit is ’n Paasfees-offer vir die Here omdat Hy verbygegaan het by die Israeliete se huise in Egipte. Toe Hy die Egiptenaars doodgemaak het, het Hy ons nie doodgemaak nie.’ ”Die Israeliete het gekniel en hulle het die Here aanbid.

28. Hulle het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron gesê het.

29. In die middel van die nag het die Here al die oudste seuns in Egipte laat sterf, almal, die oudste seun van die farao en ook die oudste seuns van die mans in die tronk. Die eerste manlike kleintjies van al die diere het ook gesterf.

Eksodus 12