Deuteronomium 3:9-20 Bybel vir Almal (ABA)

9. Die Sidoniërs noem Hermon-berg ‘Sirjon-berg,’ en die Amoriete noem dit ‘Senir-berg.’

10. Ons het al die stede gevat wat op die Hoëveld was, en die hele land Gilead en die hele land Basan, tot by die stede Salka en Edreï. Dit was twee stede in die land Basan van koning Og.

11. Koning Og van Basan was die enigste Refaïet wat nog gelewe het. ’n Mens kan sy bed nog sien in die stad Rabba van die Ammoniete. Dit is ’n ysterbed, dit is nege el lank en vier el breed.

12. “Ek het ’n stuk van die land wat ons in daardie tyd gevat het, vir die Ruben-stam en die Gad-stam gegee. Dit was die stuk land tussen die stad Aroër langs die Arnon-vallei tot by die helfte van die Gilead-berge en die stede daarin.

13. Die ander helfte van die Gilead-berge en die hele land Basan het ek gegee vir die halwe Manasse-stam. Basan was voorheen die land van Og. Dit was die hele land Argob, die hele stuk land van Basan wat hulle altyd Refaïete-land genoem het.

14. Jaïr seun van Manasse het die hele land Argob gevat tot by die grens van die lande Gesur en Maäka. Hy het die naam van die land Basan verander, hy het sy eie naam vir die land gegee, en hy het dit die Jaïr-kampe genoem. Dit is nou nog die naam.

15. Ek het die land Gilead vir Makir gegee,

16. en vir die Ruben-stam en die Gad-stam het ek die stuk land gegee van Gilead tot langs die middel van die Arnon-vallei, en ook die stuk land tot langs die Jabbok-vallei. Dit is die grens van die Ammoniete se land.

17. Ek het ook die Jordaan-vallei vir hulle gegee, die Jordaan-rivier en die grond langs die rivier. Dit was van die Gennesaret-meer tot by die see in die Jordaan-vallei, die Sout-see. Dit was onderkant die Pisga-berg langs die oostekant.

18. Ek het daardie tyd vir die mense van die Ruben-stam, die Gad-stam en die halwe Manasse-stam gesê: ‘Julle God die Here het hierdie land vir julle gegee om daar te gaan woon, maar al julle manne wat oorlog kan maak, moet deur die Jordaan-rivier gaan voor die ander Israeliete.

19. Net julle vroue en kinders en diere mag hier in die stede bly wat ek vir julle gegee het, ek weet dat julle baie diere het.

20. Julle manne moet saam gaan veg totdat die Here ook die ander Israeliete laat wen het teen al hulle vyande. Dan kan hulle die land vat wat julle God die Here vir hulle gee, dit is die land wes van die Jordaan-rivier. Daarna kan julle terugkom na die grond wat ek vir julle gegee het, elkeen kan na sy eie grond kom.’

Deuteronomium 3