1. Moses het gesê: “Ons het verder gegaan, ons het op die pad na die land Basan gegaan. Koning Og van Basan en al sy manne het ons kom aanval. Die oorlog was by die stad Edreï.
2. Die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie bang wees vir koning Og nie, want Ek sal jou laat wen teen hom en al sy mense. Jy moet sy land vat, soos jy ook gedoen het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het.’
3. “Ons God die Here het ons laat wen teen koning Og van Basan en al sy mense. Ons het hulle oorwin en nie een van hulle het aangehou lewe nie.
4. Ons het toe ál sy stede gevat, daar was nie één stad wat ons nie gevat het nie. Dit was 60 stede, die hele land Argob waaroor koning Og van Basan regeer het.
5. Al daardie stede het sterk en hoë mure gehad, en daar was sterk deure en sluitbalke in die poorte. Ons het ook baie dorpies gevat.
6. Ons het al die mense in die stede en dorpies doodgemaak, al die mans, vroue en kinders, soos ons ook gedoen het met die mense van koning Sihon van Gesbon.
7. Maar ons het die beeste en die goed in die stede vir onsself gevat.”
8. “So het ons daardie tyd die land gevat van die twee Amoriete-konings anderkant die Jordaan-rivier, van die Arnon-vallei tot by Hermon-berg.
9. Die Sidoniërs noem Hermon-berg ‘Sirjon-berg,’ en die Amoriete noem dit ‘Senir-berg.’
10. Ons het al die stede gevat wat op die Hoëveld was, en die hele land Gilead en die hele land Basan, tot by die stede Salka en Edreï. Dit was twee stede in die land Basan van koning Og.
11. Koning Og van Basan was die enigste Refaïet wat nog gelewe het. ’n Mens kan sy bed nog sien in die stad Rabba van die Ammoniete. Dit is ’n ysterbed, dit is nege el lank en vier el breed.
12. “Ek het ’n stuk van die land wat ons in daardie tyd gevat het, vir die Ruben-stam en die Gad-stam gegee. Dit was die stuk land tussen die stad Aroër langs die Arnon-vallei tot by die helfte van die Gilead-berge en die stede daarin.
13. Die ander helfte van die Gilead-berge en die hele land Basan het ek gegee vir die halwe Manasse-stam. Basan was voorheen die land van Og. Dit was die hele land Argob, die hele stuk land van Basan wat hulle altyd Refaïete-land genoem het.