Deuteronomium 11:9-22 Bybel vir Almal (ABA)

9. En dan sal julle lank lewe in die land wat die Here vir julle voorvaders belowe het, Hy het belowe om dit vir hulle en hulle nageslag te gee. Dit is ’n land waar baie melk en heuning is.

10. Ja, julle gaan na daardie land om dit vir julleself te vat, dit is nie soos die land Egipte van waar julle kom nie. In Egipte moes julle saad saai en dit natlei soos ’n groentetuin.

11. Maar die land wat julle nou vir julleself gaan vat, is ’n land wat berge en valleie het, hulle kry water van die reën uit die lug.

12. Die Here hou aan om te sorg vir hierdie land, van die begin tot die einde van die jaar.

13. Die Here sê: ‘Ek wil hê julle moet doen wat my wette sê, die wette wat Ek vandag vir julle gee. Julle moet lief wees vir My, julle God die Here, julle moet My dien met julle hele hart.

14. As julle dit doen, dan sal Ek die reën vir julle land gee op die regte tyd, vroeë reën en laat reën. Daar sal genoeg koring en wyn en olyf-olie wees om bymekaar te maak en te bêre,

15. en Ek sal vir julle diere gras gee in die veld. Julle sal genoeg hê om te eet.’

16. “Maar julle moet baie versigtig wees. Die mense van die ander volke sal julle wil verlei om weg te gaan van die Here, om ander gode te dien en om voor hulle te buig.

17. As dit gebeur, dan sal die Here kwaad word vir julle en Hy sal die hemel toesluit sodat daar niks reën sal wees nie, daar sal niks in die grond groei nie. Dan sal julle gou verdwyn uit die goeie land wat die Here vir julle gee.

18. Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê. Julle moet dink aan hierdie dinge wanneer julle werk met julle hande en wanneer julle na iets kyk

19. en julle moet hierdie dinge vir julle kinders leer. Julle moet oor hierdie dinge praat wanneer julle in julle huise sit en wanneer julle op die pad loop, wanneer julle lê en wanneer julle staan.

20. Julle moet hierdie dinge onthou wanneer julle uitgaan en ingaan by die deure van julle huise en julle poorte.

21. As julle dit alles doen, dan sal julle en julle kinders lank lewe in die land wat die Here vir julle voorvaders belowe het. Julle sal hier woon so lank soos die hemel en die aarde daar sal wees.

22. Ja, julle moet doen wat al hierdie gebooie sê, die gebooie wat Ek vir julle gegee het. Julle moet lief wees vir julle God die Here, julle moet alles doen wat Hy vir julle sê en julle moet aanhou om Hom te dien.

Deuteronomium 11