5. “Jy moet vir my dienaar Dawid gaan sê dat Ek sê: ‘Is dit jý wat vir My ’n tempel wil bou om in te woon?
6. Ek vra dit, want Ek het nie in ’n tempel gewoon nie vandat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het tot nou toe. Ek het saam met hulle rondgegaan in ’n tent of ’n tempel-tent.
7. Ek het oral saam met die Israeliete gegaan, maar Ek het nooit gekla by een van die leiers wat Ek gekies en aangestel het om vir my volk Israel ’n herder te wees nie. Ek het nooit gevra dat julle vir My ’n tempel moet bou van sederhout nie.’
8. Daarom moet jy vir my dienaar Dawid sê dat Ek, die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Dit is Ék wat jóú weggeneem het uit die weiveld by die skape en bokke. Ék het jou daar weggeneem om koning te word oor my volk Israel,
9. en Ék was by jou oral waar jy gegaan het. Ék het al jou vyande laat sterf en Ék het jou so belangrik laat word soos die belangrike konings op die aarde.
10. Ék het vir my volk Israel ’n plek gegee om te woon, en hulle woon in hulle eie land. Niemand pla hulle nie, en slegte mense laat hulle nie meer swaarkry nie soos voorheen
11. in die tyd toe Ek leiers gekies en aangestel het oor my volk Israel. Ek het jou laat rus, vyande maak nie meer oorlog teen jou nie.“ ‘Nou sê Ek vir jou: Ek sal vir jóú ’n koningshuis gee.
12. Wanneer jou tyd verby is en jy sterf, dan sal Ek een van jou eie seuns koning laat word, en hy sal lank koning wees.
13. Hý sal vir My ’n tempel bou, en Ek sal hom baie lank laat regeer.
14. Ek sal vir hom wees soos ’n pa, en hy sal vir My wees soos ’n seun. Wanneer hy verkeerde dinge doen, dan sal Ek hom straf soos ’n mens ’n kind straf.
15. Ek sal aanhou om vir hom te doen wat Ek belowe het. Ek het dit nie gedoen vir Saul wat vóór jou koning was nie.
16. Jou koningshuis sal baie lank aanhou regeer, iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.’ ”
17. Natan het vir Dawid alles gesê wat die Here vir hom gesê en gewys het.
18. Koning Dawid het ingegaan in die tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen?
19. En, Here, my Here, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Dit, Here, my Here, is wat U gesê het moet gebeur met my, ’n mens.
20. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê? Here, my Here, U ken u dienaar.
21. U het dit besluit en U het hierdie groot ding gedoen om dit vir u dienaar te sê.
22. Daarom, Here, my Here, U is groot, niemand is soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van ’n ander God nie.
23. En wie is soos u volk, soos Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het vir Uself ’n groot Naam gemaak, want U het groot en wonderlike dinge gedoen vir u land toe U vir Uself hierdie volk uit Egipte vrygemaak het van ander volke en gode.