15. Ek sal aanhou om vir hom te doen wat Ek belowe het. Ek het dit nie gedoen vir Saul wat vóór jou koning was nie.
16. Jou koningshuis sal baie lank aanhou regeer, iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.’ ”
17. Natan het vir Dawid alles gesê wat die Here vir hom gesê en gewys het.
18. Koning Dawid het ingegaan in die tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen?
19. En, Here, my Here, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Dit, Here, my Here, is wat U gesê het moet gebeur met my, ’n mens.
20. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê? Here, my Here, U ken u dienaar.
21. U het dit besluit en U het hierdie groot ding gedoen om dit vir u dienaar te sê.
22. Daarom, Here, my Here, U is groot, niemand is soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van ’n ander God nie.
23. En wie is soos u volk, soos Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het vir Uself ’n groot Naam gemaak, want U het groot en wonderlike dinge gedoen vir u land toe U vir Uself hierdie volk uit Egipte vrygemaak het van ander volke en gode.
24. U het u volk Israel ’n volk gemaak wat baie lank daar sal wees, want U, Here, het hulle God geword.
25. En nou, Here, U het dinge belowe oor my, u dienaar, en oor my koningshuis. U moet nou daardie dinge waar laat word, dit moet nog lank so wees. U moet doen wat U gesê het.
26. U moet altyd belangrik wees, en die mense moet sê: ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, is God oor Israel.’ En die koningshuis van u dienaar Dawid moet altyd regeer en hulle moet vir U dien.
27. Want U, Here wat oor alles regeer, God van Israel, dit is U wat dit vir u dienaar gesê het. U het gesê U sal vir my ’n koningshuis bou. Dit is hoekom u dienaar hierdie gebed tot U kon bid.
28. En nou, Here, my Here, U alleen is God, en U sal doen wat U gesê het. U het hierdie goeie ding gesê oor u dienaar.
29. Begin nou asseblief en laat dit goed gaan met u dienaar se koningshuis, U moet altyd by die koningshuis wees. Want U, Here, my Here, het gepraat. U het gesê dit sal goed gaan, en daarom sál dit altyd goed gaan met die koningshuis van u dienaar.”