4. Absalom en al die leiers van Israel het gedink dit is ’n goeie plan.
5. Maar Absalom het gesê: “Roep asseblief ook vir Gusai van die stad Erek sodat ons kan hoor wat hy sê.”
6. Toe Gusai by Absalom kom, sê Absalom vir hom wat Agitofel gesê het. Absalom vra toe vir Gusai: “Moet ons dit doen of nie, wat dink jy?”
7. Gusai sê toe vir Absalom: “Vandag is Agitofel se plan nie goed nie.
8. Jy ken jou pa en sy manne. Hulle kan goed veg en hulle is nou so kwaad soos ’n beer-wyfie in die veld wanneer iemand haar kleintjies doodgemaak het. Jou pa is ’n man wat baie weet van oorlog, hy sal nie by die ander mense slaap nie.
9. Jy kan seker wees dat hy nou wegkruip in ’n sloot of ’n ander plek. Wanneer hulle vir julle begin aanval en party van jou manne sterf, en die mense hoor dit, dan sal hulle sê baie van Absalom se manne is dood.
10. Dan sal almal bang word, ook die manne wat so dapper soos ’n leeu is, want al die Israeliete weet dat jou pa en die manne by hom goed kan veg.
11. Daarom sê ek jy moet eers al die manne van Israel by jou laat bymekaarkom, almal van die stad Dan tot by die stad Berseba. Hulle moet so baie wees soos die sand by die see, en jy moet self saam met hulle gaan.
12. Ons sal die koning kry waar hy is en ons sal so skielik by hom kom soos die dou wat op die grond val. Hy en nie een van die manne by hom sal aanhou lewe nie.
13. Of as hy in ’n stad gaan woon het, dan sal al die manne van Israel toue om daardie stad vasmaak en hulle sal die stad wegsleep tot in die vallei. Daar sal nie een klip oorbly nie.”
14. Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai se plan is beter as Agitofel se plan. Maar dit was die Here wat dit so laat gebeur het. Hy het dit besluit sodat die goeie plan van Agitofel nie kon slaag nie. Die Here het dit gedoen omdat Hy dit sleg wou laat gaan met Absalom.
15. Gusai het vir die priesters Sadok en Abjatar gaan vertel van die plan wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het. Gusai het ook vir hulle vertel wat sy eie plan was.
16. Gusai het gesê Sadok en Abjatar moet vinnig vir Dawid ’n boodskap stuur en vir hom sê: “Jy moenie vannag by die Jordaan-driwwe slaap nie, jy moet deur die rivier gaan. As jy dit nie doen nie, dan sal Absalom se mense jou daar kry en hulle sal jou en die mense by jou almal doodmaak.”
17. Jonatan en Agimaäs het by Rogel-fontein gewag, want hulle was bang dat die mense hulle in Jerusalem sal sien. ’n Slavin het vir hulle die boodskap gebring wat hulle vir koning Dawid moes bring.
18. Maar ’n jongman het hulle gesien en hy het vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het vinnig na ’n man se huis in die stad Bagurim gegaan. Daar was ’n put in die man se tuin, en hulle het in die put geklim.
19. Die vrou het ’n doek styf oor die put getrek en sy het koringkorrels daaroor gegooi sodat niemand die put kon sien nie.
20. Toe Absalom se manne by die vrou by haar huis kom, vra hulle vir haar waar Agimaäs en Jonatan is. Die vrou sê toe vir hulle: “Hulle het verbygegaan na die water.”Die manne het vir Agimaäs en Jonatan gaan soek, maar die manne kon hulle nie kry nie, en toe het die manne teruggegaan na Jerusalem.
21. Nadat hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en hulle het die boodskap vir koning Dawid gaan gee. Hulle het vir Dawid gesê: “Jy moet gereedmaak en jy moet vinnig deur die water gaan.”Hulle het vir Dawid gesê wat Agitofel se plan was.