3. Dawid en sy manne het by Akis in Gat gaan woon. Elke man het ook sy huisgesin saamgeneem. Dawid se twee vroue was Aginoam van die stad Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van die stad Karmel.
4. Saul het gehoor dat Dawid na Gat gevlug het, en Saul het hom nie meer gesoek nie.
5. Dawid het vir Akis gesê: “As jy tevrede is met my, dan moet jy vir my plek gee in een van die stede weg van die stad Gat, dan kan ek daar woon. Ek is nie belangrik nie, hoekom moet ek hier in die koningstad by jou woon?”
6. Akis het toe die stad Siklag vir Dawid gegee. Daarom behoort Siklag tot vandag toe aan die konings van Juda.
7. Dawid het ’n jaar en vier maande in die land van die Filistyne gewoon.
8. Hy en sy manne het die mense van Gesur en Geser en ook die Amalekiete gaan aanval. Dit was die mense wat lank gelede tussen Sur en Egipte gewoon het.