9. As hy teen my kan veg en as hy my wen, dan sal ons julle slawe wees. Maar as ek beter is as hy en as ek hom wen, dan sal julle ons slawe wees en julle sal vir ons werk.”
10. Die Filistyn het gesê: “Ek sê nou vir julle: Julle Israeliete beteken niks. Julle moet vir my ’n man stuur sodat ons teen mekaar kan veg.”
11. Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn sê, en hulle het geskrik en baie bang geword.
12. Dawid was die seun van ’n man uit Efrat, by die stad Betlehem in die land Juda. Die man se naam was Isai, en hy het ag seuns gehad. Isai was al oud toe Saul koning was.
13. Sy drie oudste seuns het saam met Saul gaan oorlog maak. Hulle was Eliab, die oudste seun, en Abinadab en Samma.
14. Dawid was die jongste seun. Sy drie oudste broers het saam met Saul gegaan.
15. Dawid was partymaal by Saul, en partymaal by Betlehem om sy pa se skape en bokke op te pas.
16. Die Filistyn Goliat het 40 dae lank elke oggend en aand nader gekom na Saul en sy manne toe en hy het gereedgestaan om te veg.
17. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Jy moet asseblief hierdie efa gebraaide koring en hierdie tien brode neem en jy moet dit vir jou broers in die kamp bring.
18. En hierdie tien stukke kaas moet jy vir hulle offisier bring. Jy moet kyk hoe dit met jou broers gaan en jy moet iets saambring wat vir my sal wys dat hulle nog lewe.”
19. Saul en die broers van Dawid en die manne van Israel was in die vallei waar die groot boom is. Hulle was daar om oorlog te maak teen die Filistyne.
20. Dawid het vroeg die volgende oggend opgestaan en hy het die skape en bokke by ’n skaapwagter gelos. Hy het toe gegaan en gedoen wat Isai gesê het en hy het by die kamp gekom. Die manne was besig om in rye te gaan staan en hulle het geskree dat die oorlog moet begin.
21. Die Israeliete het in rye gaan staan, en die Filistyne het oorkant die Israeliete in rye gaan staan.
22. Dawid het die goed wat hy saamgebring het, gelos by die man wat die goed moes oppas, en hy het na die rye manne toe gehardloop. Toe hy daar kom, het hy vir sy broers gevra hoe dit gaan.
23. Die voorvegter se naam was Goliat. Hy het vorentoe gekom terwyl Dawid besig was om met sy broers te praat. Goliat was ’n Filistyn wat uit die stad Gat gekom het. Hy het weer gespog, soos voorheen, en Dawid het dit gehoor.
24. Al die manne van Israel het teruggestaan toe hulle die man sien. Hulle was baie bang.