1 Kronieke 29:14-21 Bybel vir Almal (ABA)

14. Maar wie is ek en wie is my volk wat hierdie goed vir U kan bring? Ons bring dit vir U, maar alles kom van U, en ons gee weer vir U die goed wat aan U behoort.

15. Want ons is soos ons voorvaders, ons is ook soos vreemdelinge by U. Ons is naby U omdat U sê ons mag naby U wees. Ons lewe op die aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan gou verby.

16. Ons God die Here, ons het al hierdie goed gereedgemaak om ’n tempel te bou vir U, die heilige God, maar al hierdie goed kom van U, alles behoort aan U.

17. My God, ek weet dat U ’n mens se hart toets en dat U wil hê ’n mens moet eerlik wees. Ek het self besluit om al hierdie goed vir U te gee, en ek het nou gesien dat u volk wat hier is, dieselfde gedoen het. Ek is bly daaroor.

18. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, U moet u volk help om altyd so te dink, hulle moet net aan U dink.

19. En help my seun Salomo sodat hy met sy hele hart gehoorsaam sal wees aan u gebooie, aan alles wat U gesê het. Help hom sodat hy dit alles sal doen en sodat hy die paleis vir U sal bou, ek het alles daarvoor gereedgemaak.”

20. Daarna het Dawid vir die hele volksvergadering gesê: “Julle moet nou julle God die Here prys.”Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle voorvaders, geprys. Hulle het voor die Here en voor die koning gekniel en laag gebuig.

21. Die volgende dag het hulle vir die Here offers gebring. Hulle het brand-offers vir die Here gebring. Hulle het 1 000 bulle, 1 000 skaap-ramme en 1 000 lammers saam met die drank-offers gebring. Al die Israeliete het ook nog baie offers gebring.

1 Kronieke 29