1 Kronieke 17:6-15 Bybel vir Almal (ABA)

6. Ek het saam met die Israeliete gegaan, maar Ek het nooit gekla by een van die leiers wat Ek gekies en aangestel het om vir my volk Israel ’n herder te wees nie. Ek het nooit gevra dat julle vir My ’n tempel moet bou van sederhout nie.

7. Daarom moet jy vir my dienaar Dawid sê dat Ek, die Here wat oor alles regeer, sê: Dit is Ék wat jóú weggeneem het uit die weiveld by die skape en bokke. Ek het jou daar weggeneem om koning te word oor my volk Israel,

8. en Ék was by jou oral waar jy gegaan het. Ék het al jou vyande laat sterf en Ék het jou so belangrik laat word soos die belangrike konings op die aarde.

9. Ék het vir my volk Israel ’n plek gegee om te woon, en hulle woon in hulle eie land. Niemand pla hulle nie, en slegte mense laat hulle nie meer swaarkry nie soos voorheen

10. in die tyd toe Ek leiers gekies en aangestel het oor my volk Israel. Ek het jou laat wen teen al jou vyande.“Nou sê Ek vir jou: Ek sal vir jóú ’n koningshuis gee.

11. Wanneer jou tyd verby is en jy sterf, dan sal Ek een van jou eie seuns koning laat word, en hy sal lank koning wees.

12. Hý sal vir My ’n tempel bou, en Ek sal hom baie lank laat regeer.

13. Ek sal vir hom wees soos ’n pa, en hy sal vir My wees soos ’n seun. Ek sal aanhou om vir hom te doen wat Ek belowe het. Ek het dit nie gedoen vir die man wat vóór jou koning was nie.

14. Die koning uit jou nageslag sal altyd ’n plek hê in my tempel en daar waar Ek Koning is. Iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.”

15. Natan het vir Dawid alles gesê wat die Here vir hom gesê en gewys het.

1 Kronieke 17