32. Ek het in Efese geveg teen mense wat soos wilde diere was en wat my wou doodmaak. Het dit vir my gehelp? Nee, as die mense wat dood is, nie weer sal lewe nie, dan moes ek ook gesê het: Kom ons eet en drink,want môre sterf ons.
33. Julle moenie verkeerd dink nie. Julle moet onthou wat die spreekwoord sê:As jy verkeerde maats het,dan word jy ’n slegte mens.
34. Julle moet verander, julle moet ophou om sonde te doen. Party van julle dink verkeerd wanneer julle oor God dink. Ek sê dit omdat ek wil hê julle moet skaam word.
35. Party mense vra: “Hoe sal dit wees wanneer die mense wat dood is, weer lewe? Hoe sal hulle liggame lyk?”
36. Hoekom vra mense hierdie dom vrae? Kyk wat gebeur wanneer ’n mens saad plant. Die saad moet eers sterf voordat dit weer lewe.
37. En wanneer ’n mens saad plant, dan lyk die saad nie soos die plant wat later begin groei nie. ’n Mens plant ’n koringkorrel of iets anders.
38. Maar God gee vir die saad ’n plant of ’n liggaam soos Hy besluit het. Hy gee vir elke soort saad ’n ander liggaam.
39. Al die plante of liggame lyk nie dieselfde nie. Daar is liggame van mense, liggame van diere, van voëls, en van visse.
40. En daar is ook hemelse liggame, die son, die maan en die sterre, en daar is liggame van dinge op die aarde. Hemelse liggame is baie mooi, maar dit is anders mooi as die liggame op die aarde.