1 Konings 18:14-26 Bybel vir Almal (ABA)

14. En nou sê jy ek moet vir my meneer gaan sê dat Elia hier is. Wil jy hê hy moet my doodmaak?”

15. Elia het vir Obadja gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat oor alles regeer, die God vir wie ek werk, jy moenie bekommerd wees nie, Agab sal my vandag sien.”

16. Obadja het dit vir Agab gaan vertel, en Agab het gekom om vir Elia te ontmoet.

17. Toe hy vir Elia sien, sê hy: “Is dit jy, jy wat die dood in die land Israel bring?”

18. Elia het vir Agab gesê: “Dit is nie ék wat die dood in die land Israel bring nie. Jý en jóú familie het dit gedoen toe julle opgehou het om gehoorsaam te wees aan die wette van die Here en toe julle die Baäls begin dien het.

19. Maar nou, stuur boodskappers en sê al die leiers van Israel moet bymekaarkom op Karmel-berg, en ook die 400 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat kos kry by Isebel.”

20. Agab het boodskappers gestuur na al die Israeliete toe en hy het die profete laat bymekaarkom op Karmel-berg.

21. Elia het naby al die mense van Israel kom staan en gevra: “Hoe lank wil julle wag voordat julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here God is, dan moet julle Hóm dien. Of, as Baäl God is, dan moet julle hóm dien.”Die mense het hom nie geantwoord nie, hulle het stilgebly.

22. Toe sê Elia vir die mense: “Ek het alleen oorgebly van al die profete van die Here, maar daar is 450 profete van Baäl.

23. Gee vir ons twee bulle. Die profete van Baäl moet vir hulle een bul kies. Hulle moet dit in stukke sny en op die hout op die altaar neersit, maar hulle moenie dan vuur op die altaar begin maak nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal dit op die hout sit en ek sal nie vuur op die altaar maak nie.

24. Dan moet die profete van Baäl tot hulle god bid, en ek sal tot die Here bid. Die god wat met vuur antwoord en wat die hout op die altaar laat brand, Hý is God.”Al die mense het geantwoord: “Dit is goed.”

25. Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle een bul en maak hom eerste gereed, want julle is baie. Julle moet tot julle god bid, maar julle moenie vuur op die altaar maak nie.”

26. Die profete van Baäl het die bul geneem wat Elia vir hulle gegee het. Hulle het dit gereedgemaak en hulle het tot Baäl gebid. Hulle het van die oggend tot die middag aangehou bid en gesê: “Baäl, help ons.”Maar niks het gebeur nie, niemand het geantwoord nie. Die profete van Baäl het nie geweet wat om te doen by die altaar wat hulle gemaak het nie.

1 Konings 18