1. In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my
2. dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is
3. oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.
4. Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes;
5. hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore — Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.
6. Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie;
7. en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom.”
8. Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word.
11-13. Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.