Romeine 15:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. En:“Prys die Here, alle nasies!Loof Hom, alle volke!”

12. En Jesaja sê ook:“Isai sal 'n nakomeling hê,en Hy sal opstaan om die nasies te regeer;op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

13. Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

14. My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help.

15. Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. God het my immers in sy genade die voorreg gegee

16. om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk. Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies 'n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is.

17. In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig.

18. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad,

19. deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer.

20. Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie, want ek wil nie op die fondament van iemand anders bou nie,

21. maar soos daar geskrywe staan:“Dié wat nie van Hom vertel is nie, sal sien,en dié wat nie van Hom gehoor het nie, sal verstaan.”

22. Dit is dan ook die rede waarom ek baiekeer verhinder is om na julle toe te kom.

23. Maar nou is daar vir my in hierdie streke nie meer 'n nuwe arbeidsveld nie, en ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek

24. as ek na Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers 'n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis.

Romeine 15