1. Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil.
2. Een glo 'n mens mag alles eet; 'n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente.
3. Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.
4. Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.
5. Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting.